Bafana kry dalk gou nuwe naam
2011-02-05 17:03
Johannesburg - Die benamingsregte van die nasionale sokkerspan, Bafana Bafana, sal in die nabye toekoms moet verander, het die Suid-Afrikaanse sokkerfederasie Saterdag aangekondig.
Safa het die media toegespreek ná die federasie se uitvoerende komitee se eerste vergadering van die jaar. 'n Nuwe naam vir die span was glo die belangrikste item op die agenda.
"Die probleem het begin toe 'n ander maatskappy daarop aanspraak gemaak het dat hulle die regte op die naam besit, en ons (Safa) het deur die nodige regskanale gewerk om uit te vind wat ons te doen staan," het Safa se president, Kirsten Nematandani, gesê.
"Ons (Safa) het besluit dat die naam wat ons vir ons nasionale span het aan die federasie moet behoort, en die risiko verbonde aan 'n moontlike naamsverandering sal nou ondersoek word," het Nematandani gesê.
Die aankondiging kom kort ná Safa vroeër in die week vir Pinky Lehoko as waarnemende uitvoerende hoof aangestel het.
Nematandani wou nie tydens die mediakonferensie sê of die voormalige uitvoerende hoof, Leslie Sedibe, bedank het en of hy die trekpas gekry het nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA