Bafana hoop dis vierde keer skeepsreg
2011-10-06 07:05
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse sokkerspan is gerat om die berg uit te klim wat oormôre in die Mbombela-stadion op hom wag.
Só het Itumeleng Khune, die Bafana Bafana-doelwagter, gesê aan die vooraand van dié bepalende kragmeting vir deelname aan aanstaande jaar se Afrikabeker-toernooi.
Bafana beklee tans die tweede plek in Groep G en móét dié wedstryd teen die hoogaangeskrewe Sierra Leone wen om sy kans lewend te hou om deur te dring tot die vasteland se spogtoernooi in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee.
Terselfdertyd sal Khune-hulle hoop dat Egipte minstens ’n gelykop-uitslag afdwing teen Niger, die groep-voorloper.
“Sierra Leone het reeds gewys dat hy ’n uitstekende span is, maar ek is vol vertroue dat ons hom kán klop,” het Khune gister gesê.
“Dié kragmeting herinner my aan ons onlangse wegwedstryd teen Egipte. Niemand het ons veel van ’n wenkans gegun nie, maar ons het almal verkeerd bewys.”
Khune en sy spanmaats sal egter veel meer moet doen as net praat wanneer dié wedstryd omstreeks 17:00 in Nelspruit afskop.
Nie net kon Bafana nog nie een van sy vorige drie kragmetings met die Wes-Afrikane wen nie, maar kon hy boonop nie ’n enkele doel aanteken nie in bykans vyf uur se spel.
Die Suid-Afrikaners het boonop hul laaste kwalifiserende wedstryd, verlede maand teen Niger, met 2-1 verloor en sal vir die soveelste keer vanjaar sonder sy kaptein en spelskepper, Steven Pienaar, moet klaarkom.
Pienaar sukkel steeds met ’n liesbesering wat hom die afgelope twee maande lank op die krukkelys hou.
“Die uitslag teen Niger was moeilik om te verwerk, maar die realiteit is dat ons die afgelope paar maande meestal goeie sokker gespeel het,” het Khune gesê.
“Boonop gaan ons dié keer voor ons eie mense speel.
“Tuisveldvoordeel is baie belangrik en ek glo ons het steeds genoeg skietgoed om met Sierra Leone af te reken – selfs sonder Steven.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg