Bafana het wéér g’n plek vir Mokoena
2011-03-16 08:19
Johannesburg. – Aaron Mokoena, Bafana Bafana se afgeskeepte WB 2010-kaptein en mees ervare verdediger, het Dinsdag wéér ’n afjak van die nasionale sokkerbreier, Pitso Mosimane, gekry.
Die Suid-Afrikaanse afrigter het sy groep spelers aangekondig vir Bafana Bafana se belangrikste wedstryd tot dusver vanjaar, te midde van bespiegelings oor die afrigter se planne met Mokoena.
Suid-Afrika pak Egipte volgende week hier op Coca-Colapark in ’n kwalifiserende groepwedstryd vir die Afrikabeker-toernooi.
Mokoena het nie in een van Bafana se vorige twee wedstryde gespeel nie.
Sy weglating uit die groep wat aanstaande Saterdag teen een van Afrika se sterkste spanne te staan sal kom, het vrae laat ontstaan rondom die span se gereedheid op verdediging.
En nes die geval was by die vorige twee geleenthede, wou Mosimane nie verduidelik waarom sy mees gesoute speler wéér nie die paal gehaal het nie.
“So graag as wat ons almal nou oor die kaptein wil praat, moet ons dit nie doen nie.
“Aaron was nog altyd ’n rolmodel en het sy beste vir die span gegee,” het Mosimane joernaliste se vrae oor Mokoena in die kiem gesmoor.
Nog ’n gereelde gesig in die WB 2010-span, die doelskieter Katlego Mphela, is weer vir nasionale diens opgeroep, nadat hy ook nie die laaste paar maande in Mosimane se visier was nie.
Die enigste nuweling in die groep is die doelwagter Wayne Sandilands, wat in die plek van die beseerde Moeneeb Josephs gekies is.
Volgens Mosimane is die tyd ryp dat sy span na ’n hoër rat oorskakel en sy beste voet voor sit in die wedstryd teen die Farao’s, die verdedigende Afrikabeker-kampioen.
“Dis belangrik dat ons veral ons tuiswedstryde wen.
“Ons moet die maksimum 3 punte uit dié wedstryd vat sodat ons nie van ’n oorwinning in ons laaste groepwedstryd (teen Sierra Leone) afhanklik is om te kwalifiseer nie,” het Mosimane gesê.
* Intussen het die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) mense aangemoedig om hul kaartjies vir die kragmeting vroegtydig aan te skaf.
“Hierdie is Bafana Bafana se grootste en waarskynlik moeilikste wedstryd in sy Afrikabeker-veldtog,” het Pinky Lehoko, Safa se waarnemende uitvoerende hoof, gesê.
“Ons verwag groot getalle ondersteuners by Coca-Colapark, so dis belangrik dat mense hul kaartjies vroeg koop ten einde ’n laat stormloop te vermy.”
* Die Suid-Afrikaanse groep is: Doelwagters: Itumeleng Khune, Darren Keet, Wayne Sandilands. Verdedigers: Siboniso Gaxa, Anele Ngcongca, Siyabonga Sangweni, Bongani Khumalo, Morgan Gould, Mzivukile Tom, Ruben Cloete. Middelveldspelers: Siphiwe Tshabalala, Tlou Segolela, Kagisho Dikgacoi, Thanduyise Khuboni, Daylon Claasen, Andile Jali, Reneilwe Letsholonyane, Steven Pienaar, Sifiso Myeni. Doelskieters: Katlego Mphela, Davide Somma, Thulani Serero, Kermit Erasmus, Bernard Parker.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24