Bafana gly op ranglys
2011-09-22 07:03
Bern. – Spanje is weer die koning van die sokkerwêreld, maar Brasilië en Bafana Bafana sal hul sokkies moet optrek.
Die Spanjaarde, wat net meer as ’n jaar gelede hul eerste Wêreldbeker-kroon in Suid-Afrika verower het, het Woensdag weer die boonste plek op die ranglys van die beheerliggaam Fifa ingeneem nadat dié span verlede maand deur Nederland onttroon is.
Dít volg nadat Vicente del Bosque se span onlangs die hoogaangeskrewe Chili in ’n vriendskaplike wedstryd met 3-2 verslaan en Liech- tenstein in ’n kwalifiserende wedstryd vir aanstaande jaar se Euro-toernooi met 6-0 afgeslag het.
Die Nederlanders, wat in verlede jaar se dramatiese Wêreldbeker-eindstryd in die destydse Soccer City met 1-0 deur Spanje verslaan is, is nou in die tweede plek, ondanks hul oortuigende seges van 11-0 oor San Marino en 2-0 oor Finland.
Brasilië se groot gly het egter voortgeduur toe hy ’n verdere plek teruggesak het en nou maar op ses na die beste span ter wêreld is. Die Brasiliane sukkel steeds onder hul nuwe afrigter, Mano Menezes, en kon die afgelope maand net ’n naelskraapse sege oor Ghana en ’n doellose gelykop-uitslag teen Argentinië behaal.
Dit is die Suid-Amerikaners, wat die Wêreldbeker-toernooi in 2014 aanbied, se swakste ranglysplek sedert Augustus 1993 en net een plek beter as die laagste wat hulle nog op die ranglys was.
Terselfdertyd het Engeland vier plekke teruggesak tot agtste, wat beteken dat Portugal en Italië hulle nou bo Fabio Capello se span bevind.
Intussen het Bafana vier plekke tot 51ste gegly.
Hoewel Pitso Mosimane-hulle onlangs gelykop teen die sokkerreus Egipte gespeel en Burkina Faso met 3-0 afgeransel het, het die teleurstellende nederlaag van 1-2 teen Niger vroeër vandeesmaand in Niamey die Suid-Afrikaners duur te staan gekom.
Dit is die eerste keer sedert Januarie dat dié span nie tussen die voorste 50 spanne tel nie nadat hy in Mei nog die 38ste plek beklee het – sy beste in meer as sewe jaar.
Volgens dié ranglys is Bafana nou boonop op agt na die beste span in Afrika nadat hy twee plekke afgestaan het.
Hy kan egter daarvoor vergoed wanneer hy Sierra Leone aanstaande maand in die Mbombela-stadion in Nelspruit in ’n bepalende kwalifiserende kragmeting vir die Afrikabeker-toernooi pak.
Bafana is tweede in Groep G in die kwalifiserende ronde en móét met die Wes-Afrikane afreken om steeds ’n kans te hê om hul plek tussen die spanne vir dié toernooi te bespreek wat in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee beslis word.
Daarbenewens sal Mosimane ook styf duim vashou dat Niger verloor of ten minste die louere met die Egiptenare deel wanneer dié spanne in Kaïro slaags raak.
Bafana kon in 2008 laas vir deelname aan die Afrikabeker-toernooi kwalifiseer wat hy in 1996 op verrassende wyse gewen het.
Fifa-ranglys
1. Spanje
2. Nederland
3. Duitsland
4. Uruguay
5. Portugal
6. Italië
7. Brasilië
8. Engeland
9. Kroasië
10. Argentinië
51. Suid-Afrika
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg