Bafana-doel op lys van bestes
2010-11-17 15:08
Johannesburg - Bafana-ster Siphiwe Tshabalala se doel in die Wêreldbeker-openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko in Junie het Fifa se kortlys vir beste doele in 2010 gehaal.
"Ek het nie eers geweet dat die doel genomineer is nie. Maar ek voel baie geëerd," het Tshabalala op Kaizer Chiefs se webtuise gesê.
"Dit beteken regtig baie vir my om op dieselfde lys as spelers soos Lionel Messi en Arjen Robben te wees," het die Kaizer Chiefs-middelveldspeler gesê.
Die ander kandidate vir die toekenning is Giovanni van Bronckhorst vir Nederland, Hamit Altintop vir Turkye, Matthew Burrows vir Glentoran in Noord-Ierland, Linus Hallenius vir die Sweedse klub Hammarby, Lionel Messi vir Barcelona, Samir Nasri vir Arsenal, Neymar vir Santos, Arjen Robben vir Bayern Munich en Kumi Yokoyama vir Japan se nasionale o.17-vrouespan.
Fifa se Puskas-toekenning vir beste doel van die jaar is vernoem na die legendariese Hongaar Ferenc Puskas, wat vir Real Madrid gespeel het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24