Bafana-breier vaar uit teen media
2012-01-16 14:04
Rustenberg – Pitso Mosimane, breier van Bafana Bafana, het ná sy span se 1-1-uitslag teen die Wes-Afrika-reus Ghana op emosionele wyse teen die Suid-Afrikaanse sportmedia te velde getrek.
Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het onder skerp kritiek deurgeloop ná die status van Suid-Afrika se twee tuiswedstryde verlede week van volwaardige internasionale vriendskaplike wedstryde tot oefenwedstryde verlaag is. Die media het Suid-Afrika ook nie veel van 'n kans teen Zambië en Ghana gegee nie.
"Hoeveel keer het julle ouens nie al vir my 'n doodsberig geskryf nie? Hoeveel keer?" het Mosimane by 'n mediakonferensie ná die wedstryd gesê.
"Almal het vir ons 'n doodsberig geskryf nog voor ons begin het. Almal het gedink ons gaan afgeslag word.
"Almal het geskryf, 'hulle het die wedstryde na oefenwedstryde verander, hulle is bang'."
Mosimane het die media daarop gewys dat sy erg uitgedunde span hul man gestaan het teen Ghana.
Die jong span het vroeër dié week ook sonder 'n hele paar van sy topspelers in Johannesburg teen Zambië gelykop gespeel.
"Ja, nog 'n wedstryd wat ons nie gewen het nie, maar niemand gee eers om hoe dit gegaan het, of teen wie jy gespeel het nie," het Mosimane gesê.
Mosimane het gesê sy spelers behoort geloof te word vir hulle vertoning teen internasionale spanne.
"Wie was afwesig by Ghana, behalwe Asamoah Gyan? Wie was afwesig by Zambië?
"Vertel vir my van 'n speler wat afwesig was – en die ouens het dit oorleef."
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA