Bafana-breier se loopbaan in gedrang
2009-10-13 11:11
Johannesburg – Joel Santana het belowe dat sy span ‘n oorwinning teen Ysland sal vier, ongeag onlangse gerugte wat beweer Carlos Alberto Parreira sal glo vir die Bafana Bafana-breier vervang.
Santana is onder groot druk met die wedstryd teen Ysland wat voorlê. Dié afrigter kan sy loopbaan kwyt wees indien hulle teen ‘n span wat 94ste op die wêreldranglys geplaas is, verloor.
Parreira kan moontlik vir die 60-jarige vervang nadat Santana hom sowat ‘n jaar gelede voorgestel het as sy opvolger.
Santana het gesê hy is egter nie bang daarvoor om sy werk weens die nederlaag teen Noorweë te verloor nie.
Daar sal volgens hom nie tyd wees om aan sy Brasiliaanse landsgenoot te dink nie, want hy gaan te besig wees om aan ‘n oorwinning te werk.
“Al die wedstryde wat ons tot dusver gespeel het was weg gewees, so hulle was baie moeilik. Ek het ‘n videogreep van Ysland in aksie gesien en hulle lyk na sterk spelers, maar ons gaan veg vir ‘n oorwinning,” het Santana gesê.
Intussen wil Aaron Mokoena, Bafana-Bafana se kaptein wraak neem teen Ysland waarteen Suid-Afrika in 2005 4-1 verloor het.
"Ons moet hulle hierdie keer wen. Die span speel deesdae goed, maar ons het doele nodig,” het hy gesê.
- Sport24