Baba-Bafana gekap ná gelykop-stryd Spele-kans knou
2011-12-02 09:52
Johannesburg. – Baba-Bafana Bafana se kans om aan volgende jaar se Olimpiese Spele deel te neem, het nóg ’n reuse-terugslag beleef.
Die sokkerspan van Suid-Afrika het in die Afrikabeker-toernooi vir o.23’s in Marokko weer gelykop gespeel.
Shakes Mashaba se elftal, wat die naweek ook teleurgestel het deur die louere met 1-1 te deel met die Ivoorkus, het Woensdagaand in Marrakech met dieselfde telling teen Gaboen geëindig.
Dié uitslag beteken dat Mashaba-hulle nou Saterdag met die hoogaangeskrewe Egipte móét afreken om hul hoop op ’n plek in die halfeindronde van dié toernooi – en in Londen in 2012 op die Spele – lewend te hou.
Die twee eindstryd-spanne in dié toernooi, asook die wenner van die kragmeting om die derde/vierde-plek, bespreek hul Spele-plekke outomaties; terwyl die land wat vierde eindig in ’n uitspeelstryd betrokke sal wees.
Die Suid-Afrikaners, wat nou die derde plek in hul groep beklee, het Woensdagaand die voortou geneem danksy ’n doel deur die middelveldspeler Mandla Masango kort voor die rustyd.
Soos teen die Ivoorkus, het die Suid-Afrikaners die voorsprong met oorversigtigheid prysgegee en kon Gaboen laat in die wedstryd die gelykmaker behaal – tot die groot frustrasie van Mashaba.
Dié uitgesproke afrigter het sy spelers se verdedigende ingesteldheid gekritiseer.
“Niemand het hulle gevra om terug te sit en ons voorsprong te probeer verdedig nie,” het hy aan Sapa gesê. “Die spelers is geneig om hul eie koppe te volg en daarom het ons weer die prys betaal.”
Gaboen, een van die swakker spanne in die toernooi, kan óók nog deurdring tot die volgende ronde nadat hy beïndruk het in sy eerste wedstryd van die toernooi, teen Egipte.
“Gaboen verdien lof, want hy het goed gespeel en nooit gaan lê nie,” het Mashaba gesê. “Die wedstryd teen Egipte is nou soveel belangriker, maar ons weet wat om te verwag en ons sal reg wees.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24