Arsenal-doelskopper dalk geskors
2009-09-01 14:29
Nyon, Switserland – Die Europese sokkerbeheerliggaam, Uefa, besluit of hy Arsenal se doelskopper, Eduardo da Silva, uit die Europese Kampioeneliga gaan skors omdat hy geduik het om verlede week ’n strafskop teen Celtic te kry.
’n Storm het losgebars nadat hy tydens verlede Woensdag se kwalifiserende Kampioeneliga-wedstryd geval het toe Celtic se doelwagter, Artur Boruc, by sy voete geduik het.
Eduardo het die strafdoel aangeteken en Arsenal het die wedstryd 3-1 gewen.
Uefa, se dissiplinêre paneel het ’n spesiale vergadering gehou om te oorweeg of Da Silva “met opset geduik het om wedstrydbeamptes te mislei”.
As hy skuldig bevind word, kan hy vir twee wedstryde geskors word.
Dit sal beteken dat hy Arsenal se wedstrydw by Standard Liege en Olympiakos sal misloop.
Arsene Wenger, Arsenal se bestuurder, het gesê Uefa se klag is ’n “skande” en ’n “heksejag”.
Dié sokkerklub glo dat Eduardo geduik het om te verhoed dat hy ’n besering opdoen.
Eduardo was in Februarie 2008 vir meer as ’n jaar buite aksie ná hy ’n ernstige besering opgedoen het.
Die Spaanse skeidsregter Manuel Mejuto Gonzalez het intussen sy beluit om dié strafskop te gee, verdedig.
Arsenal het glo bandmateriaal wat wys dat Boruc kontak met Eduardo se enkel gemaak het.
– Sapa-AP