Ajax betaal Nuweland-skade
2009-08-18 16:05
Johannesburg – George Comits, die voorsitter van die sokkerklub Ajax Cape Town, het gesê die klub sal vir al die skade wat verlede naweek aan Nuweland gerig is, betaal.
Die stadion het Saterdag gasheer gespeel vir die wedstryd tussen Ajax en die Kaizer Chiefs in die eerste been van die MTN8 semi-finaal.
Die Urban Warriors-feesvieringe was van korte duur toe ondersteuners handuit geruk het en skade aan die veld gerig het.
WP-Rugby het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle bevestig dat hulle met Ajax se bestuurspan sal vergader om die skade te bespreek.
Intussen het Commits aan die Cape Times vertel dat hulle vir die skade sal vergoed en die geld van die PSL, wat die wedstryd gereël het, gaan terug eis.
"Ons speel al ons wedstryde by Nuweland en ons het ‘n goeie verhouding met WP-Rugby,” het hy gesê.
"Dié soort gedrag sal nie geduld word nie.”
- Sport24