Afrigter prys Chelsea oor 'hy karakter wys'
2011-12-14 10:30
Londen. – André Villas-Boas glo sy Chelsea-sokkerspan is terug in die titel-wedloop nadat hy die voorloper in die Engelse Premierliga, Manchester City, met 2-1 geklop het.
Dié sege Maandagaand op Stamford Bridge het Chelsea se agterstand teenoor City op die puntelys na 7 punte laat krimp. Dit was City se eerste nederlaag in 15 liga-wedstryde vanjaar.
Nadat Chelsea ook onlangs tot die uitklopfase van die Europese Kampioeneliga deurgedring het, het Villas-Boas gesê hy dink sy en die span se geluk het gedraai.
Dit volg ná ’n moeilike paar weke vir Chelsea waartydens Villas-Boas se toekoms as afrigter bevraagteken is.
“Dit (die wedstryd teen City) was ’n goeie oorwinning vir ons. Dit verander ons kanse in die Premierliga,” het die breier gesê oor ’n sege wat danksy ’n doel deur Raul Mereiles en ’n strafdoel deur Frank Lampard behaal is.
City het die laaste 32 minute van die stryd met 10 spelers klaargekom nadat ’n rooikaart aan die verdediger Gael Clichy gewys is.
“Sewe punte in die Premierliga, waar soveel spanne die titel jag, is niks nie. Man City speel volgende week teen Arsenal en ons speel binnekort teen Tottenham,” het Villas-Boas gesê.
“Die realiteit is dat daar nog nooit soveel spanne in die wedloop om die titel was nie. Man City ding mee. Tottenham ding mee, Liverpool lyk stewig en Arsenal is besig om uit die dood op te staan om hul aanslag te hervestig.”
Villas-Boas glo sy span is ná Maandagaand op die regte pad.
Mario Balotelli het City ná minder as twee minute ’n voorsprong van 1-0 gegee, maar Mereiles se doel in die 34ste minuut het sake gelyk gemaak.
Lampard het die terugvegpoging vervolmaak met sy strafdoel in die 83ste minuut.
Die Chelsea-afrigter het sy span se vasbeslotenheid geloof om ’n onoorwonne City, wat voor Maandag 48 doele in 14 wedstryde aangeteken het, te klop.
“Om so vroeg in die wedstryd met 0-1 agter te raak het dit moeilik gemaak, want dit het selfvertroue aan City besorg.
“Dus was dit ’n toonbeeld van ons karakter om tot op 1-1 terug te veg. In die tweede helfte was albei spanne op soek na daardie een fout wat die uitslag sou verander, en ons het dit gevind.
“Ons het dit nodig gehad om sake ná ’n rits slegte uitslae om te keer en ons het dit in die grootste van wedstryde reggekry. Die spelers verdien lof daarvoor.”
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Sapa - AFP