Bafana se aansien herwin
2010-12-28 08:00
Durban - Hoewel die Suid-Afrikaners in Junie die eerste gasheerspan in die geskiedenis van die Wêreldbeker-toernooi geword het wat nie die eerste ronde van sokker se grootste skouspel kon oorleef nie, het Bafana Bafana vanjaar steeds vriend en vyand verras.
Dit was so hittete of Carlos Alberto Parreira se spelers het met een van die merkwaardigste terugvegpogings in die toernooi geslaag toe hy die voormalige wêreldkampioen Frankryk in Bloemfontein met 2-1 getroef het.
Dié sege was egter nie genoeg om te vergoed vir die negatiewe doeleverskil ná die loesing van 0-3 teen Uruguay op Loftus Versfeld nie en het Mexiko eindelik laat deurdring tot die tweede ronde.
Dít nadat Siphiwe Tshabalala-koors die land beetgepak het met dáárdie doel in die openingswedstryd teen die Mexikane.
Dié prestasies is soveel indrukwekkender as daar in ag geneem word dat Parreira-hulle ’n paar maande voor WB 2010 nog moes
raap en skraap om nie teen kapokgewig-spanne soos Jamaika en Namibië vas te val nie.
Parreira se ervaring en klem op fiksheid en dissipline was egter duidelik tydens Bafana se oefenkampe in Duitsland en Brasilië en het dié span handig te pas gekom tydens WB 2010.
Die Suid-Afrikaners het min met beserings gesukkel en die veld vol gehardloop.
Vanjaar was straks ook die einde van Benni McCarthy se liefde-haat-verhouding met Bafana.
Dié 33-jarige “potjierol” is, met 31 doele in 79 wedstryde, die suksesvolste doelskieter in die land se geskiedenis en is ingesluit in Parreira se voorlopige groep vir WB 2010 – ondanks kommer oor sy fiksheid en vetrolletjies.
McCarthy en die doelwagter Rowen Fernandez is egter kort voor die toernooi uit die span geskop nadat hulle glo tot in die vroeë oggendure in die spanhotel in Sandton gefuif het.
Parreira het die land kort ná die Franse stryd gegroet – met ’n traan in die oog en ’n hele paar ekstra nulle in sy bankrekening.
Pitso Mosimane, sy jarelange regterhand, het die leisels geneem, ondanks die indrukwekkende vertoningslys van die SuperSport United-breier, Gavin Hunt.
Jingles, soos hy bekend staan, het egter sy kritici so vroeg as in Augustus stilgemaak deur Ghana, Afrika se groot Wêreldbeker-hoop, in ’n oefenwedstryd met 1-0 te troef.
Niger het kort daarna ook in die stof gebyt in die Suid-Afrikaners se eerste kwalifiserende wedstryd vir 2012 se Afrikabeker-toernooi in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee – ’n toernooi wat Bafana nog net een keer kon wen en waarvoor hy laas in 2008 gekwalifiseer het.
’n Gelykop-uitslag teen Sierra Leone in Freetown het gevolg, voordat die hoogaangeskrewe Amerikaners laasmaand ’n einde gemaak het aan Mosimane se onoorwonne vertoningslys as breier.
Terwyl McCarthy en ander hardebaarde soos Aaron Mokoena, Teko Modise en MacBeth Sibaya straks die einde van hul loopbane in die Groen-en-Goud bereik, het ’n handvol “nuwelinge” stewige opgang gemaak.
Buiten Tshabalala het die doelskieter Katlego Mphela, die verdedigers Bongani Khumalo en Siboniso Gaxa en die doelwagter Itumeleng Khune die sokkerwêreld in 2010 laat regop sit.
En McCarthy se vertrek en Bafana se voortdurende onvermoë om genoeg doele aan te teken, het verder stukrag gegee aan die soektog na ’n vennoot vir Mphela voorlangs.
Bernard Parker, Sthembiso Ngcobo en Kermit Erasmus is in dié rol beproef, maar die “trekdier” Davide Somma lyk na die belowendste.
Dié Johannesburger het reeds wye draaie gegooi, onder meer in Italië en Amerika, maar dit is met sakke vol doele vir die Engelse klubspan Leeds United dat hy Mosimane se aandag getrek en gevolglik sy buiging teen die Yanks gemaak het.