Muller terug in Bok-wedloop
2011-08-17 09:02
In-diepte Verslae
Die Nieu-Seelandse rugbyunie het die All Blacks se Rugbykampioenskap-titel met 'n openbare tentoonstelling
van die span se trofeekas gevier.
Johannesburg – Johann Muller is weer fiks en gretig om Suid-Afrika in die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland te verteenwoordig.
Dié 31-jarige slot het vandeesweek op sy Ierse klubspan, Ulster, se webwerf gesê hy sal nooit nee sê vir die voorreg om weer vir die Springbokke te speel nie en sal die kans om in Nieu-Seeland uit te draf, met albei hande aangryp.
Muller was gekies om vir die Springbokke in die Drienasies-reeks te speel, maar moes hom kort voor die toets in Sydney weens ’n knaende dyspierbesering onttrek. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer en sedertdien by sy klub in Belfast aangesluit.
Ulster het Maandag bekend gemaak dat Muller dié span in die 2011/2012-seisoen sal aanvoer.
“Ek is nou weer fiks en reg om te speel. Ek sien uit na die voorseisoense wedstryde vir Ulster en as ek opgeroep word om vir die Springbokke te speel, sal ek absoluut verheug wees,” het dié yster-slot gesê.
“Dit bly ’n voorreg om vir die Springbokke te speel.”
Muller is steeds in die Wêreldbeker-prentjie ná ’n hakbesering Andries Bekker uit die toernooi gaan hou, het die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, gesê.
“Die slotposisie is een van daardie waar ons steeds probleme het en ek sal elke kandidaat sterk oorweeg,”het De Villiers gesê.
Flip van der Merwe, wat ook tydens die Drienasies-toer beseer is, het reeds twee keer vir die Blou Bulle in die Curriebeker-reeks gespeel. Dit lyk egter of Gerhard Mostert, wat Muller en Van der Merwe se plek op toer ingeneem het, die gunsteling is om die Wêreldbeker-groep te haal.
Mostert behoort die derde slot te wees, met Danie Rossouw, wat as veelsydige voorspeler die ander slotrol kan vul.
As Rossouw as losvoorspeler gekies gaan word, kan Muller weer sy tasse pak om na Nieu-Seeland te vlieg.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24