Heyneke gaan nie torring aan 'swak span'
2012-08-27 15:23
In-diepte Verslae
Die Nieu-Seelandse rugbyunie het die All Blacks se Rugbykampioenskap-titel met 'n openbare tentoonstelling
van die span se trofeekas gevier.
Johannesburg – Suid-Afrika se afrigter, Heyneke Meyer, het gesê hy sal die meeste van die Bokke wat louwarm in Argentinië vertoon het, behou vir die opkomende Rugbykampioenskap-toetse teen Australië en Nieu-Seeland.
Frans Steyn se drie het aan Suid-Afrika Saterdag 'n onverdiende gelykop-uitslag gegee teen Argentinië in Mendoza, maar die Springbokke is ore aangesit in die lynstane en by die afbreekpunte.
Meyer het egter gesê daar sal geen grootskaalse veranderings wees wanneer hy sy span die week vir Australasië aankondig nie.
"Dit is maklik om spelers uit te gooi en nuwe ouens te kies, maar dit is nie wat afrigting is nie, dis sommer net om te kies," het hy Maandag aan joernaliste by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg gesê.
"Ek was al verskeie kere in my loopbaan in dié posisie en die maklikste ding om te doen is om spelers uit die span te gooi – maar dit is nie wat die Springbokke gaan vorentoe neem nie," het Meyer gesê.
Uittrede, beserings en oorsese skuiwe het beteken dat Suid-Afrika die Poemas Saterdag met slegs vier spelers gepak het wat deel was van die span wat met 9-11 teen Australië in die Wêreldbeker verloor het – Bryan Habana, Jean de Villiers, Morne Steyn and Jannie du Plessis.
"Ek het geweet dit sal baie moeilik wees in my eerste jaar met die Springbokke weens onervare spelers, baie van die ouens het Saterdag in hul eerste wegwedstryd gespeel."
"Ons vertoning in Argentinië was nie goed genoeg nie, dit was onaanvaarbaar en ek is baie teleurgesteld, maar mense onderskat die Poemas – byna die hele span speel in Europa en hulle is baie ervare."
Die Springbokke se volgende kragmeting is op 18 September teen Australië in Perth.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP