Flip, Louw draf uit teen All Blacks
2012-09-12 08:40
In-diepte Verslae
Die Nieu-Seelandse rugbyunie het die All Blacks se Rugbykampioenskap-titel met 'n openbare tentoonstelling
van die span se trofeekas gevier.
Kaapstad – Morné Steyn sal Saterdag weer op losskakel teen die All Blacks in Dunedin uitdraf, het die Keo-webtuiste Woensdag berig.
Die Springbok-afrigter Heyneke Meyer het slegs twee veranderings gemaak aan die span wat deur die Wallabies in Perth geklop is.
Francois Louw is in die oopkantflank-posisie gekies terwyl Marcell Coetzee na die plaasvervangerbank skuif.
"Die Kiwi's is goed op die grond en daarom het ons besluit om vir 'n spesialis nr. 7 soos Francois te gaan," het Meyer by Woensdag se spanaankondiging gesê.
"Marcell was baie goed vanjaar en het baie rugby gespeel, maar in hierdie wedstryd voel ons dat hy van beter nut kan wees as 'n impak-opsie."
Intussen sal Flip van der Merwe op slot uitdraf terwyl Andries Bekker terug is in die 22-tal.
Die vaskopstut Jannie du Plessis het sy fiksheidstoets geslaag en sal die nr.3-trui teen die All Blacks dra.
Die veteraan-slot Bakkies Botha sal nie betrokke wees by die Bokke nie, maar die rede hiervoor is glo mediese versekering – dieselfde kwessie wat Fourie du Preez gekeer het om vanjaar 'n terugkeer na toetsrugby te maak.
Juan de Jongh en Dean Greyling is op die plaasvervangerbank.
Steyn het verlede jaar al 18 punte in die Bokke se 18-5 oorwinning oor die All Blacks in Port Elizabeth geskop en hou die rekord vir meeste punte teen die Kiwi's toe hy 31 punte in Suid-Afrika se oorwinning in 2009 in Bloemfontein aangeteken het.
Die Springbokke het egter, met Steyn op losskakel, nie die soort sukses behaal wat voortgehoue seleksie in die beginspan regverdig nie, berig Keo.
Steyn het in die Bokke se laaste 30 toetse uitgedraf waarvan slegs 16 gewen is.
Afskoptyd Saterdag is om 09:35.
So lyk die span:
15 Zane Kirchner, 14 Bryan Habana, 13 Jean de Villiers (k), 12 Frans Steyn, 11 Francois Hougaard, 10 Morné Steyn, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Juandre Kruger, 4 Flip van der Merwe, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Beast Mtawarira.
Plaasvervangers: 16 Tiaan Liebenberg, 17 Dean Greyling, 18 Andries Bekker, 19 Marcell Coetzee, 20 Johan Goosen, 21 Juan de Jongh, 22 Pat Lambie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Keo