Zac erken probleem ná hy nakend amok maak
2011-11-15 09:10
Wellington – Die All Black-vleuel Zac Guildford het gister om verskoning gevra vir ’n hewige gedrinkery waartydens hy ’n kroeg naak en bebloed ingestrompel en twee mense aangerand het.
Guildford sê hy kan nie presies onthou wat dié aand op die Cook-eilande gebeur het nie. “Ek besef my gedrag was onaanvaarbaar en ek is verleë daaroor.
“Ek vra die mense om verskoning wat ek daardie aand te na gekom het. Ook die personeel en klante wat my gedrag gesien het en die mense van die Cook-eilande,” sê hy in ’n verklaring wat deur die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) uitgereik is.
“Ek is werklik jammer oor wat ek gedoen het.”
Dié 22-jarige vleuel, wat al ’n geruime tyd alkoholverwante probleme ondervind en in die Wêreldbeker-toernooi ook deur die NZRU oor die kole gehaal is, sê hy sal hulp soek sodra hy na Nieu-Seeland terugkeer.
“Dis duidelik dat ek hulp nodig het.”
Guildford wou nie besonderhede van die gebeure verskaf nie, maar Jack Cooper, eienaar van die gewilde Trader Jacks Bar aan die waterfront in Rarotonga, sê dié vleuel het die kroeg binnegestrompel en twee klante aangerand.
Een van hulle het sy 60ste verjaardag gevier.
“Dit was eers toe hy teen die verhoog vasgedruk is dat hy agtergekom het hy is kaal en om verskoning gevra het,” het Cooper in ’n radio-onderhoud gesê.
“Ek weet nie waar sy kop was nie. Dit was beslis nie hier op aarde nie.”
Die Herald on Sunday het berig Guildford het sopnat, kaal en bebloed by die kroeg opgedaag met snye wat hy glo vroeër in die dag in ’n motorfietsongeluk opgedoen het.
In die Wêreldbeker-toernooi het Guildford erken hy het ’n alkoholprobleem wat hy in bedwang wil bring.
Volgens die NZRU is dié speler reeds drie keer die afgelope 18 maande voor die raad gedaag oor sy gedrinkery.
Sy afrigter by die Crusaders, Todd Blackadder, sê dié voorval moet die laagtepunt in sy lewe wees.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP