Yslike terugslag tref Cheetahs
2011-10-04 07:59
Bloemfontein – ’n Yslike Curriebeker-terugslag het die Vrystaat-rugbykamp Maandag getref met die nuus dat die Cheetahs se bul-stut Coenie Oosthuizen nie weer in 2011 in aksie sal wees nie.
Die Springbok sal sowat vier maande langs die kantlyn wees en sy beseerde nek word waarskynlik Dinsdag al in die Rosestad geopereer.
Die 22-jarige Oosthuizen het Saterdag hier in sy span se gelykop-uitslag van 25-25 teen die Leeus sy nek aan die einde van die eerste helfte seergemaak en is rustyd hospitaal toe.
Die Vrystaters sal ook Vrydag in Witbank teen die Pumas sonder nóg ’n staatmaker, die losskakel Johan Goosen, moet klaarkom. Goosen het teen die Rooibontes harsingskudding opgedoen en die Cheetahs hoop hy sal vir volgende week se laaste ligawedstryd, hier teen Griekwas, beskikbaar wees.
Oosthuizen se besering is ’n groot verlies in die pylvak en in moontlike uitkloprondes van die Curriebeker-reeks, aangesien hy ’n groot uitblinker was.
Die stut, wie se besering glo soortgelyk aan ’n vorige een van die Springbok-kaptein, John Smit, is, sal eers weer aan die begin van 2012 se Super Rugbyreeks speel.
Volgens Ian Morris, die Vrystaters se spandokter, het Oosthuizen ’n kussinkie in sy nekwerwel seergemaak, iets was dikwels met stutte gebeur. ’n Finale besluit oor die datum van ’n operasie op die kragman, sou eers gisteraand laat geneem word.
Gelukkig vir die Cheetahs sal WP Nel ná ’n kuitbesering terugkeer teen die Pumas en sal hy in Oosthuizen se plek op vaskopstut sak. Oosthuizen, wat eintlik ’n loskopstut is, het die laaste paar weke in die beseerde Nel se plek vaskop gespeel.
Maar die Vrystaters gaan Oosthuizen steeds geweldig mis, aangesien hy een van hul voorste baldraers is, sy werkverrigting veel hoër as die meeste stutte s’n is en hy balle nes ’n baljagter op die grond steel.
Boonop is hy ’n sterk skrumwerker en sou hy saam met Nel en die haker Adriaan Strauss weer die Cheetahs se eerstekeuse voorry gevorm het.
“Hoewel WP gelukkig in Coenie se plek kan terugkeer, is dit nie lekker om Coenie te verloor nie. Hy speel ongelooflik goed. Sy werkverrigting is baie hoog,” het Naka Drotské, die Vrystaat se afrigter, gesê.
Sias Ebersohn sal in Witbank as losskakel in Goosen se plek uitdraf.
Die haker PW van Vuuren is ook ná ’n dyspierbesering beskikbaar, maar sal nie noodwendig vir Hercu Liebenberg as plaasvervanger-haker vervang nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24