Willem de Waal pak tasse vir Italië
2010-09-28 11:14
Kaapstad – Die Italiaanse rugbyklub Treviso het bevestig dat hulle die dienste van die Westelike Provinsie se losskakel, Willem de Waal, bekom het.
Volgens die RuggaWorld webtuiste sal De Waal reeds in November vanjaar by die klub aansluit om aan die res van die Europese seisoen deel te neem.
Dit is nie op Treviso se webtuiste duidelik vir hoe lank hy gekontrakteer is nie.
Wat losskakels betref het die WP steeds vir Lionel Cronje op hul boeke terwyl Peter Grant beplan om volgende jaar in die Super15-seisoen te speel, na sy rugbykontrak in Japan verstryk.
De Waal (32) het rugby vir Stellenbosch Universiteit gespeel voor hy sy provinsiale debuut vir die Luiperds in 2002 gemaak het.
Daarna het hy in 2004 by die Vrystaat-Cheetahs aangesluit.
In 2007 het De Waal ‘n tweejaar-kontrak met die Franse tweede liga klub RC Narbonne gesluit.
Hy het na net een seisoen in Frankryk, teruggekeer na Suid-Afrika waar hy toe by die Westelike Provinsie aangesluit het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24