Wikus deel van 'groter prentjie'
2010-01-19 08:32
Johannesburg - Die Springbok-flank Wikus van Heerden sal ’n rugbykringloop voltooi wanneer hy later vanjaar ná ’n afwesigheid van drie en ’n half jaar weer vir die Leeus uitdraf.
Die voormalige Leeus-kaptein, wat aanstaande maand 31 word, sal na afloop van die Europese rugbyseisoen, waarin hy vir Saracens speel, na Gauteng terugkeer.
Saracens het Van Heerden verlede week toestemming gegee om ná hul seisoen na Suid-Afrika terug te keer.
Dié klipharde flank het gesê hy wil vanweë persoonlike redes weer in Suid-Afrika kom woon.
Al is aanvanklik bespiegel dat Van Heerden na die Blou Bulle, waar hy in 2007 en 2008 gespeel het, sou terugkeer, het hy besluit om hom by die Leeus te skaar.
Hy het die Bulle én Saracens ook al aangevoer en met sy koms sal die unie nog leierskap en ervaring hê waarop hy kan staatmaak om sy span tot die krag van ouds te herbou.
“Dit was sensitiewe onderhandelinge, want Saracens moes hom van sy kontrak vrystel,” het die uitvoerende hoof van die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU), Manie Reyneke, gesê.
“Maar ons is baie bly oor Wikus. Hy is ’n gesiene ou onder die spelers en kan nog maklik drie jaar vir ons speel.
“Met al ons jong spelers moet ons ’n bietjie ervaring ook inbring en dit was die plan met Carlos Spencer ook.
“Ons het die groter prentjie in gedagte.
“Ons tjekboek is nog nie toe nie en ons gáán die beste franchise ter wêreld word,” het Reyneke gesê.
Van Heerden sal egter vanjaar op die vroegste in die Curriebeker-reeks kan speel.
Van Heerden is tot einde 2012 by die GLRU gekontrakteer en kan dus volgende jaar in die Super14-reeks speel.
Van Heerden het aan die Lions se webtuiste gesê: “Die Leeus is nog altyd vir my spesiaal. Met al die veranderings by die Leeus en met die nuwe aanstellings wat hulle gemaak het, dink ek dit is die ideale geleentheid om die beste van die res van my rugbyloopbaan te maak.”
- Die Burger