Wicus Blaauw uit vir res van CB-reeks
2011-09-13 10:00
Kaapstad – Allister Coetzee, hoofafrigter van die Westelike Provinsie se Curriebeker-rugbyspan, voel al “knorrig” oor hy sy weke deesdae moet begin met die woorde “hy sal eers weer volgende jaar kan speel ...”
Verlede week was dít die prognose vir die agtsteman Duane Vermeulen. En Maandag het Coetzee daardie sin moedeloos met “Wicus Blaauw” begin.
Blaauw het Saterdag teen die Luiperds sy eerste wedstryd in ’n wyle begin nadat hy op ’n verlengde kondisioneringsplan was.
’n Ligament in sy regterhand het in die naweek van die been af losgeskeur en sal Donderdag in ’n operasie geheg word.
Hierdie besering beteken noodwendig dat die 19-jarige Steven Kitshoff Saterdag teen Werner Kruger, Springbok-stut van die Blou Bulle, moet sak wanneer die Kapenaars op Loftus Versfeld besoek aflê.
Dit was dus ’n reuse-genade dat Kitshoff die afgelope naweek ’n blaaskans van senior rugby gekry het toe hy net 40 minute lank by die o.21-span moes diens doen.
Met Blaauw se besering en JC Kritzinger (knie) wat eers teen die afdraand van die Curriebeker-reeks weer kan speel, sal Coetzee dalk op JD Moller se knoppie moet druk.
Coetzee oorweeg dit wel om vyf voorspelers op die bank te kies. Hy meen selfs teen ’n sukkelende Blou Bul-span is daar altyd ’n fisieke stryd wat voorlangs gewen moet word alvorens dit ook op die telbord kan gebeur.
Pieter Jordaan berig dat die spel van ’n paar jong Blou Bulle soos ’n ligpunt uitstaan om aan vas te klou.
In Saterdag se gelykop-uitslag teen die Vrystaat-Cheetahs was dit ’n drie deur die 20-jarige senter Francois Venter en ’n wen-strafdoel deur die 21-jarige Louis Fouché wat die span van ’n nederlaag gered het.
Die jong losvoorspelers CJ Stander, Warwick Tecklenburg en Arno Botha het Pretoria ook op ’n positiewe wyse aan die praat – dit terwyl die stad hom steeds erg bekommer oor hul geliefde span se agterstand van 17 punte teenoor die Leeus as die voorloper op die puntelys.
“Van daardie o.20-spelers van ons speel soos seniors en dit maak my hart bly. Ek is opgewonde oor hul toekoms,” het Pine Pienaar, die span se afrigter, Maandag gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24