Western Force vry na Sias
2010-06-24 09:52
Bloemfontein - Die Western Force se soektog na ’n plaasvervanger vir André Pretorius in Suid-Afrika duur voort.
Peter Grant was bo-aan dié Australiese Super15-span se inkopielys voordat die Springbok-losskakel van die Westelike Provinsie onlangs bekend gemaak het dat hy eerder vir ’n klubspan in Japan gaan speel.
Die Force kyk nou na Sias Ebersohn van die Cheetahs.
Die 20-jarige Ebersohn is tot ná vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks deur die Cheetahs gekontrakteer en speel Saterdag in Welkom in ’n losmaker vir die Vrystaat teen die Griffons.
Ebersohn was verlede jaar een van die voorste puntemakers vir die Jong Bokkies in die Junior Wêreldtoernooi en ding vanjaar mee met die deurwinterde Louis Strydom om die Cheetahs se nr. 10-trui.
Die afrigter van die Cheetahs, Naka Drotské, het bevestig dat Ebersohn tot ná die Curriebeker-reeks gekontrakteer is.
Drotské het terselfdertyd gesê hulle onderhandel nie om Earl Rose van die Leeus as ’n losskakel na die Vrystaat te lok nie.
“Ons stel nie in hierdie stadium in Earl belang nie.”
The West Australian berig die Force het reeds met die Australiese Rugbyunie (ARU) oor die moontlikheid gepraat om Ebersohn te kontrakteer.
Ebersohn kan as ’n ontwikkelingspeler gekontrakteer word, terwyl die Aussie-span ook baie in die vaardige Willie Ripia van die Hurricanes belangstel.
Volgens The West Australian is die deur nog nie vir Pretorius (dyspierbesering) gesluit om na Perth terug te keer nie, hoewel hy onlangs fiksheidstoetse by die Sharks ondergaan het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24