Wêreldkroon wink vir Bokkies
2011-06-10 09:54
Kaapstad - As die Jong Bokkies Skotland Vrydagaand as ’n oorskotspan beskou, kan hierdie nogmaals ’n jaar met indrukwekkende, dog niksseggende, statistieke vir die o.20-Springbokspan word.
Die Junior Wêreldtoernooi begin Vrydag in Italië waar Skotland Suid-Afrika se eerste teenstander is in ’n groep, wat geleidelik groter eise behoort te stel, want Ierland en Engeland is volgende.
Skotland het vroeër vanjaar laaste geëindig in die Sesnasiestoernooi vir o.20-spanne en die Bokkies het hom verlede jaar met 73-0 geroer.
Maar ondanks hul rekordsege van 108-18 oor die VSA in 2008 en al het hulle verlede jaar die meeste punte (257), drieë (37) en doelskoppe (27) opgestapel, het die Bokkies in drie pogings nog net brons wen.
Een of ander tyd sal hulle moet begin speel soos ’n span wat die ganse toernooi kán wen en die spelers soos potensiële Springbokke.
Om toetsspelers op te lewer is immers die doel met die o.20-strukture – iets waarmee Australië ander lande bra effens laat lyk.
Sedert die Wallaby-breier, Robbie Deans, David Pocock in 2008 uit die Australiese o.20-span gaan haal het, het nog 13 spelers dieselfde roete gevolg, waarvan 8 al toetsrugby gespeel het ... soos Will Genia en Quade Cooper.
Dit is inderdaad nog net Nieu-Seeland wat dié toernooi kon wen, maar selfs sy uitset aan toetsspelers soos Zac Guildford, Aaron Cruden en Sam Whitelock boesem nie dieselfde toekomsvrese as Pocock, Genia en Cooper in nie.
Suid-Afrikaanse o.20-produkte soos Pat Lambie en Francois Hougaard word nog tussen posisies rondgeskuif en Coenie Oosthuizen en Elton Jantjies het nog ’n paar jaar na rugbywasdom nodig.
Nieu-Seeland, Australië en Engeland, ná sy o.20-Grand Slam, word vanjaar as gunstelinge beskou. Maar gemeet aan toetspotensiaal, gee dié Bokkies hoop.
Benewens die agttal van 840 kg wat teen Skotland begin, is daar in Paul Jordaan en Tshotsho Mbovane twee Blitsbokke in die agterlyn wat onlangs op die internasionale toneel indruk gemaak het.
Die slot Eben Etzebeth groei nog, maar op 2.03 m en 116 kg word hy as ’n toekomstige Bok beskou.
In die lig van die spreekwoordelike verband tussen statistieke en leuens wil Suid-Afrikaners ’n slag sien dat die Bokkies goeie statistieke op kritieke oomblikke in tasbaarhede vir nou én die toekoms omsit.
Die Jong Bokkies se span is: Ulrich Beyers, Tshotsho Mbovane, Paul Jordaan, Francois Venter, Wandile Mjekevu, Johan Goosen, Pieter Rademan, Arno Botha (k), Siyamthanda Kolisi, Francois Kleinhans, Eben Etzebeth, Jean Cook, Nic Schonert, Bongi Mbonambi, Juan Schoeman.
PLAASVERVANGERS: Micheal van Vuuren, John Roy Jenkinson, Ruan Venter, Cornell du Preez, Lohan Jacobs, John Welthagen, Craig Barry.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24