Wallis gee Henson kans teen Barbarians
2011-05-10 11:56
Kaapstad - Hoewel die Wallieser Gavin Henson in Maart 2009 laas sy land in 'n toets verteenwoordig het, is die 29-jarige senter Maandag opgeneem in Wallis se groep wat op 4 Junie teen 'n span van die Barbarians speel.
Henson, wat tans vir die Franse klub Toulon speel, het in 31 toetse vir Wallis uitgedraf. Maar drama in sy persoonlike lewe het die talent wat hy op 'n rugbyveld kan wys, deurgaans oorskadu.
Wallis se hulp-afrigter, Rob Howley, het gesê Henson se insluiting sal goed wees vir die senters se wedywering om 'n plek in die span.
"Hy is 'n kwaliteit-speler en dit is goed om hom terug te gee. Hier is nou 'n geleentheid vir Gavin om te beïndruk," het Howley gesê.
Henson het twee Grand Slams én vir die 2005 Britse en Ierse Leeus in Nieu-Seeland gespeel, maar het sy land nog nooit by 'n Wêreldbeker verteenwoordig nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24