Walliese senter kry nog 'n kans
2011-05-03 10:59
Parys - Die Walliese senter Gavin Henson, wat aanvanklik in die pad gesteek is omdat hy die gedragskode van sy Franse klub Toulon oortree het, is terug by die klub.
Henson het twee weke gelede die trekpas gekry nadat hy glo in 'n rusie met een van sy spanmaats na afloop van 'n Franse ligawedstryd betrokke was.
"Vanoggend (Dinsdagoggend) het president Mourad Boudjellal en sy personeel by die Toulon rugbyklub besluit om die Walliese senter Gavin Henson 'n tweede kans te gee," het die klub in 'n verklaring op hul webtuiste gesê.
Die senter, wat in 2005 en 2008 vir Wallis in die Sesnasies-reeks uitgeblink het, sukkel sedertien om sy spelpeil weer op dreef te kry.
Sy laaste toets vir Wallis was in Maart 2009.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24