'WP is te wit' – Wakefield
2011-08-01 11:08
Kaapstad – Die adjunkhoof van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), Thelo Wakefield, het gesê daar is te min gekleurde spelers in die WP se Curriebeker-span en drastiese stappe moet geneem word om die situasie reg te stel.
Volgens Wakefield het die WPRU verlede week by Nuweland met verteenwoordigers van alle WP-klubs vergader en hul ontevredenheid weens die situasie uitgespreek.
“Die klubs het besluit genoeg is genoeg. Die huidige stand van sake kan nie meer geduld word nie,” het Wakefield gesê.
“Hulle is ongelukkig. Gekleurde spelers is goed genoeg om op junior vlak te speel, maar hulle kry nie genoeg kans om hulself op Curriebeker- en Super Rugby-vlak hulself te bewys nie.
Wakefield het gesê hy sal sy vingers stomp werk sodat die kritiek teen die spanne se insluiting van gekleurde spelers nie op dowe ore moet val nie.
“Ek het uitgewerk: Sedert die begin van vanjaar se Curriebeker-toernooi, het die WP gemiddeld slegs 22% gekleurde spelers ingesluit,” het hy gesê.
“Dit maak die span uiters ongewild onder die mense,” het hy bygevoeg. “Die span moet meer verteenwoordigend wees sodat daar meer rolmodelle kan wees.”
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.