WP weet Japanners vry na Jaque Fourie
2011-10-11 08:10
Kaapstad – Japan raak ’n al hoe gewilder bestemming vir beroepsrugbyspelers, maar die Westelike Provinsie hoop waarskynlik dat Jaque Fourie se multimiljoenrand-verhouding met die Kaap hom nog vir ’n wyle of drie hier sal hou.
Rob Wagner, uitvoerende hoof van WP Rugby, het Maandag aan Sport24 bevestig dat Fourie tydens die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland aanbiedinge uit die Ooste ontvang het. “Jaque het ons onmiddellik laat weet nadat ’n hele paar Japanse klubs met hom gepraat het,” het Wagner gesê.
“Dit gebeur altyd dat klubs voelers uitsteek na groot spelers wat nog nie hul kontrakte vir die volgende seisoen verleng het nie.
“Jaque het egter laat weet dat hy geen besluite wil neem voordat hy met ons gepraat het nie. En omdat hy op die Wêreldbeker moes fokus, wou ons nie elke dag met hom oor die telefoon praat nie,” het Wagner gesê.
Volgens hom het Fourie geen aanbiedinge van Engelse of Franse klubs gekry nie.
Die Bok-senter is verlede jaar met ’n fris tjek hierheen gelok en was sedertdien instrumenteel in die herlewing in Kaapse rugby.
Wat die Curriebeker-reeks betref, hoop Allister Coetzee, afrigter van die Streeptruie, om minstens drie Bokke terug te hê vir Saterdag se wedstryd op Nuweland teen die Pumas. “Ons wag nog op Saru vir ’n amptelike antwoord oor die Bokke se beskikbaarheid.
“Maar ek hoop regtig om vir Gio Aplon, Jean de Villiers en Juan de Jongh terug te hê.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg