WP slag Leeus op Nuweland
2010-07-17 16:43
Anja Carstens
Kaapstad - Die Westelike Provinsie het die Goue Leeus Saterdag oortuigend met 32-0 in hul Curriebeker-kragmeting op Nuweland in Kaapstad geklop.
Voorlangs het die manne mekaar opgekeil. Maar veral die Leeus se swak dissipline en slordige skrumwerk deur beide spanne het die wedstryd by tye onaanskoulik gemaak.
Die Streeptruie het teen rustyd met 19-0 voorgeloop nadat flank Pieter Louw vir die Kapenaars in die eerste helfte gedruk het en Willem de Waal se visier goed op die pale ingestel was.
In die tweede helfte het die Leeus desperaat na punte gesoek maar die tuisspan se verdediging was rotsvas.
Plaasvervanger Pieter Myburgh het sy eerste Curriebeker-drie vir die Streeptruie in die 70ste minuut aangeteken.
Die Kapenaars het in die laaste tien minute tevergeefs gesoek na 'n bonuspunt drie. Fabian Juries is in die laaste beweging van die wedstryd by die kantlyn uitgeboender voor hy die bal op die doellyn kon druk.
Puntemakers:
Westelike Provinsie: Drieë: Pieter Louw, Conrad Jantjies, Pieter Myburgh Doelskoppe: Willem de Waal Strafskoppe: Willem de Waal (5)
Die WP se volgende kragmeting is teen die Pumas op Nuweland terwyl die Leeus die Griekwas in Kimberley pak.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter
te volg.