WP slaan vure dood oor Rassie
2010-09-22 10:45
Kaapstad - WP Rugby het gerugte dat sy senior afrigter Rassie Erasmus, dié rugbyunie voor die einde van die jaar gaan verlaat, ten sterkste ontken.
Die Kaapse streekspan het die media na ‘n kennisgewing op sy webtuiste verwys waarin gereageer word op ‘n berig wat Dinsdagmiddag in ‘n Kaapse koerant gepubliseer is.
Volgens die koerantberig beplan Erasmus glo om WP voor die einde van die jaar te verlaat.
Die kennisgewing op WP se webtuiste het gelees: “WP Rugby se senior afrigter, Rassie Erasmus, is tot die einde van 2012 gekontrakteer en sal die Westelike Provinsie nie verlaat om ‘n afrigterspos by Saru op te neem nie.”
“Rassie het ‘n verbintenis met WP Rugby en is ‘n gewaardeerde en gerespekteerde lid van die afrigterspan. Gerugte van onenigheid en ‘n noodgedwonge skuif is nonsens,” het Rob Wagner, WP Rugby se besturende direkteur, gesê.
Tog heers daar ‘n gevoel in Kaapse rugbykringe dat na die onthullings wat die uitvoerende lede Thelo Wakefield en Peter Jooste aan die media gemaak het, Erasmus dalk tog sy rug op Nuweland gaan keer.
Wakefield en Jooste het die tekort aan transformasie en die min geleenthede vir jong opkomende rugbyspelers in die Kaap onlangs fel gekritiseer.
Daar is sommige mense wat glo Erasmus sal meer van ‘n aanwins by die Springbokke wees waar hy as tegniese assistent kan diens doen. Of dat hy selfs die vakante afrigterspos vir die Suid-Afrikaanse o.20-span moet vat.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24