WP kan oor 3 j. vir Skotte uitdraf
2012-02-18 13:00
Bloemfontein – Sy begeerte om eendag internasionale rugby te speel was die grootste dryfveer waarom die Cheetahs se WP Nel later vanjaar ’n Skotse rokkie sal dra.
Die Skotse klub Edinburgh het vandeesweek bevestig die 25-jarige vaskopstut sal vir die volgende drie jaar vir hom uitdraf.
Natuurlik is Nel se eerste keuse om die Groen-en-Goud te dra, maar hy kan ná drie seisoene by sy nuwe klubspan dalk die bekende Flower of Scotland uit volle bors sing.
Hoewel daar onduidelikheid by die Cheetahs bestaan oor presies wanneer Nel vertrek, het hy gister aan Sport24 gesê dit sal waarskynlik ná die Super-reeks wees.
Die Cheetahs het gehoop Province, soos sy spanmaats hom noem, is nog vir die Curriebeker-reeks beskikbaar.
Nel het gesê dinge is vloeibaar, maar hy behoort ná die Super-reeks oorsee te speel.
Dié boorling van Loeriesfontein sal sy Engels moet afstof en miskien aan ’n Skotse kilt gewoond moet raak. Volgens Nel sal hy oor drie jaar kwalifiseer om vir die Skotte te speel.
“Ek het my rugby by die Cheetahs baie geniet en ek sal altyd dankbaar wees vir die geleenthede wat Naka-hulle my gegee het.
“Die skuif na Edinburgh gee my nuwe blootstelling en dis ’n ander soort rugby wat in Europa gespeel word.
“Ek wil ook graag internasionale rugby speel en kan dalk vir Skotland uitdraf,” het hy gesê.
Nadat hy byna sy stewels opgehang het, het Nel hom in 2009 by die Cheetahs aangesluit en as sterk skrumwerker begin naam maak.
Soveel so dat hy daardie selfde jaar vir die Barbarians teen die All Blacks op Twickenham uitgedraf het.
Intussen het jong Cheetahs-stutte soos Trevor Nyakane en Marcel van der Merwe sterk na vore getree.
Albei dié jongelinge is loskopstutte, maar hulle én Coenie Oosthuizen kan ook op vaskop sak.
Maar Nel dink nie nou al aan die Skotse hooglande nie. “Ek sal natuurlik eers vir die Cheetahs wil uitblink.
“Nes enige Suid-Afrikaanse rugbyspeler sal ek graag vir die Bokke gekies wil word en ek sal alles in my vermoë doen om te sorg dat die Cheetahs in 2012 beter in die Super-reeks vaar.”
– Sport24
– Volg Nuus24Sport op Twitter