WP-breier sien rooi
2012-09-17 07:39
Kaapstad – Die Westelike Provinsie se afrigter, Allister Coetzee, het gesê die twee rooikaarte wat die Streeptruie in die Curriebeker-stryd teen die Haaie gekry het, is onvaanvaarbaar en interne strawwe sal aan die skuldiges opgelê word.
Die losvoorspelers Tyrone Holmes en Jebb Sinclair is Saterdagaand albei afgestuur vir vuisslanery in die Kapenaars se nederlaag van 43-27 op Kingspark in Durban.
'n Geelkaart vir Wilhelm van der Sluys vier minute voor die eindfluitjie het verseker dat die besoekers met slegs 12 spelers op die veld geëindig het terwyl die tuisspan met 'n bonuspunt weggestap het.
"Ons dissipline het ons gekos. Die span het sagte strafdoele afgestaan en hoewel ons gefrustreerd was, het ons gesukkel om ons emosies reg te beheer," het Coetzee in 'n verklaring, wat Sondag aan die media vrygestel is, gesê.
Die WP, wat nou tot die derde plek op die Curriebeker-punteleer teruggesak het, se volgende wedstryd is Saterdag teen die Griekwas op Nuweland.
Afkskoptyd is om 15:00.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24