WP-breier kry klop op skouer
2009-09-30 08:52
Stephen Nell
Kaapstad - Allister Coetzee het selde al die krediet gekry wat hom as afrigter toekom, maar die Westelike Provinsie se breier gaan straks vandag vereer word vir sy aandeel in die Streeptruie se goeie spelpeil in die Curriebeker-rugbyreeks.
Die WP hou vanmiddag ’n nuuskonferensie om sy span vir Saterdag se kragmeting met die Boland op Nuweland aan te kondig, en daarna sal die Curriebeker se afrigter en speler van die-maand in Bellville aangewys word.
Met die toekenning wat in die Moederstad gemaak word, is ’n logiese gevolgtrekking dat dié eer Coetzee te beurt sal val.
Die speler van die maand vir September is na verneem word die Cheetah-vleuel Lionel Mapoe.
Met die WP wat in sy laaste sewe wedstryde slegs op omstrede wyse teen die Cheetahs in Bloemfontein verloor het, sal ’n toekenning vir Coetzee welverdiend wees.
Hy was ook in die Springbok-bestuurspan wat die Wêreldbeker-toernooi in 2007 gewen het, maar die voormalige Wallaby-afrigter Eddie Jones het in die openbaar meer krediet as Coetzee vir sy insette gekry.
“Allister het ’n wennersmedalje in ’n WB-toernooi verwerf en jy móét dit respekteer. Sy kennis is baie goed in elke aspek van die spel,” sê die WP se voorspeler-afrigter, Matthew Proudfoot.
“Hy het ’n nederigheid na die span gebring en as ’n ou wat van Port Elizabeth af kom, maak hy ons steeds almal bewus van ons verantwoordelikheid teenoor die Kaapse gemeenskap.”
Proudfoot se invloed in die WP se oplewing vanjaar kan ook nie onderskat word nie. Die WP se pak het Saterdag teen Griekwas weer as ’n eenheid in die skrums en losgemale uitgeblink.
“Ek was vier jaar by Pukke se rugbyinstituut betrokke,” sê Proudfoot.
“As speler en afrigter leer jy by almal aan wie jy blootgestel word. Ek het as speler in Skotland by afrigters soos Jim Telfer en Hugh Campbell geleer en by die Bulls by Uli Schmidt.”
Proudfoot glo nie die veranderinge wat die WP vandeesweek aanbring, sal die pak se ritme versteur nie.
JC Kritzinger sal Brock Harris as vaskopstut vervang, terwyl die Springbok-slot Andries Bekker waarskynlik in Anton van Zyl se plek sal uitdraf.
“Ons het hard gewerk om diepte te vestig. Andries se terugkeer versterk ons leierskap voorlangs. Ek was ook baie tevrede met JC se bydrae nadat hy lank met ’n ernstige besering buite aksie was,” sê Proudfoot.
“Boland het ’n sterk loskopstut (Janro van Niekerk) en met Michael de Neuilly-Rice op hul plaasvervangerbank, sal die volgehoue druk goed vir JC wees.”
* Intussen het die Boland-Kavaliers se direkteur van afrigting, Chester Williams, gesê dat beserings onder sy spelers maai. Twee leenspelers van die WP – die voorryman Schalk Ferreira (nek) en die slot George Earle (enkel) – is nie beskikbaar nie.
* Die Boland-beginspan is: Hayden Groepes, Deon Scholtz, PJ Vermeulen, Dewey Swartbooi, Wendel Wehr, Danré Gerber, Marnus Hugo, Junior Bester, Hilton Lobberts, Angelo Brinkhuys, Nico Esterhuyse, Rito Hlungwane, Jacobie Adriaanse, Harry Vermaas, Janro van Niekerk.
- Die Burger