WP-breier: ‘Dis ’n psigiese probleem’
2011-09-28 09:01
Kaapstad – Allister Coetzee het Saterdag grappenderwys, dog effens benoud, na die Westelike Provinsie se Curriebeker-rugbyspan as “ons o.21A-span” verwys.
Dié jong span het tot twee weke gelede vriend en vyand verras toe hy welverdiend tweede op dié reeks se puntelys gelê het.
Die span is deur beserings ontwrig en die werklike o.21-span is gevolglik papierdun gelaat, maar wen darem nog.
Vir dié Curriebeker-span begin die halfeindronde onwaarskynlik lyk as sy volgende twee teenstanders in ag geneem word: die Haaie eerskomende naweek in Durban en die Leeus daarna in Johannesburg.
’n Moedelose Matt Proudfoot, voorspeler-breier van die Streeptruie, het Dinsdag gesê sy span staan voor ’n groter sielkundige stryd as een wat met tegniek en vaardighede te make het.
“Geen speler wil só baie besit afstaan nie,” het hy verwys na die 31 keer dat die Vrystaat die WP se besit in die naweek omgekeer het.
“Daar is nie een oefening of aanpassing wat ons nou vinnig kan maak om dit reg te stel nie. Dis ’n psigiese ding. Maar dit gaan gepaard met ’n gebrek aan kontinuïteit weens beserings.
“Ons het nie die luukse om elke week dieselfde span te kies nie. Die ouens kry nie kans om mekaar te leer ken nie. Ons moet dié ding in ons koppe omkeer.”
’n Bemoedigende teken is volgens hom die spelers se goeie werksetiek.
“Enige speler se vertroue word geknou ná twee agtereenvolgende nederlae. Maar die ouens se ingesteldheid is soos dié van ’n span wat nie tevrede is met wat hy in daardie wedstryde gedoen het nie,” sê hy.
Wat die naweek se wedstryd betref, is ’n wedstryd in Durban teen die Haaie straks wat die WP nodig het.
“Ons hou daarvan om weg van die huis af te speel,” het Coetzee vandeesweek gesê.
Net soos die WP was die Haaie Vrydag teen Griekwas glad nie oortuigend nie. Dit is ’n moet wen vir die Kapenaars. En die o.21A-span weet dit, het Coetzee beloof.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24