Vrystaat lyk ál gevaarliker
2011-09-26 09:26
Kaapstad – Die Vrystaat het nie Saterdag op Nuweland die eerstefase-spel teen die Westelike Provinsie se Curriebeker-rugbyspan oorheers nie. En sy fenomenale losskakel, Johan Goosen, was nie op sy beste nie. Daar was ook ’n “lakse” 20 minute wat hom amper die wedstryd gekos het.
Maar die Vrystaters het nogtans ’n voltal ligapunte verdien met hul sege van 34-20 (rustyd 24-3) wat hulle in die pylvak van die reeks nogmaals ’n baie sterk aanspraakmaker op die titel maak.
Naka Drotské, hoofafrigter van die Vrystaat-Cheetahs, het ’n paar voor die hand liggende opmerkings gemaak.
Hy was tevrede met sy span se vasbytsege. Die Streeptruie het hom vir ’n wyle in die tweede helfte benoud gehad toe hulle net met 20-24 agter was; en hy “sal weer na die opname moet kyk” om te sien of sy span nie gelukkig was om die wedstryd weens knaende onkantspel geelkaart-loos af te sluit nie.
Maar daardie byna niksseggende ontleding van sy span se sege is nie waarvoor hy en sy adjudante, Hawies Fourie en Os du Randt, betaal word nie. Dit was ’n veelseggende oorwinning, met puik taktiese oomblikke.
Drotské het die wedstryd met ’n fris lostrio – Lappies Labuschagné, Boom Prinsloo en Ashley Johnson – begin. In Engels word daar na sulke baldraers as strike runners verwys. Hulle is groot spelers wat moeilik grond toe gebring word en van wie primêr nie baljagtertake vereis word nie.
Danksy die Vrystaatse skrumskakel, Piet van Zyl, se uitstekende diens aan Goosen en vaardige spelers soos Johnson, wat die bal tussen buitesenter en vleuel kon hanteer, moes die Kapenaars pal meer spelers op die verdediging inspan.
Dít het aan die buitekant ruimte geskep en met blitse soos Ryno Benjamin en Cameron Jacobs op vleuel het die besoekers redelik maklik tot in die WP se gebied gevorder.
Die WP het die Vrystaatse skakelpaar met fisieke lakwerk in die eerste twee aanvalskanale onder druk probeer plaas.
Maar Van Zyl se diens het dit vir Goosen moontlik gemaak om wyer en dieper te staan.
Daarmee is die Kaapse ywer op die verdediging geneutraliseer.
Ondanks ’n beter tweede helfte deur die WP het die feit dat die Vrystaters die aanvanklike Kaapse “storm” afgeweer het die wedstryd se gang en eindelik die uitslag bepaal.
Die Vrystaat moet wel aandag gee aan sy vertolking van onkantspel voordat hy die Leeus Saterdag in Bloemfontein ontvang.
Hy is in die eerste 14 minute van die tweede helfte ses keer daarvoor gestraf.
Die Westelike Provinsie het in daardie tyd twee drieë gedruk en amper teruggekom in die wedstryd.
’n Verdiende geelkaart aan die Vrystaat kon die gang van die wedstryd verander het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24