Vrystaat ‘kán drieë druk’
2010-08-24 09:01
Bloemfontein - Die Vrystaat-rugbyspan sukkel g’n so baie om drieë in die Curriebeker-reeks te druk nie en het ’n gulde geleentheid om dit Vrydag in Kaapstad teen die Westelike Provinsie te bewys.
Hoewel die Cheetahs vroeër oor hul aanvallende vermoë gekritiseer is, is hulle teen die halfpadmerk een van die voorste driedrukkers in die reeks.
Die Vrystaat-breier, Naka Drotské, se span het 25 drieë in 7 kragmetings gedruk. Dis naas die Haaie (31) en Griekwas (26) die meeste.
Boonop het hy ook met 14 drieë die derde minste afgestaan. Net die WP (8) en Haaie (13) het minder drieë teen hulle.
Die Vrystaat se Luiperds-sege van 57-0, met nege drieë, het natuurlik baie hiertoe bygedra.
Volgens Drotské is die statistieke ná die eerste ronde meer betroubaar siende sy span sy moeilikste wedstryde, teen die WP, Griekwas, Blou Bulle en Haaie, aan die begin gespeel het. Hy het die Pumas, Leeus en Luiperds aan die einde gepak.
“Ná sewe wedstryde is dit ’n billiker weergawe van hoe ons gespeel het.
“Dit gaan boonop oor die volle prentjie en nie hoe dinge halfpad deur die seisoen lyk nie.
“Daar kan teen die einde gekyk word of ons te min drieë gedruk het,” sê hy.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24