Victor glo aan Bokke se doepa
2010-08-28 07:34
Pretoria - Ná ’n Wêreldbeker-oorwinning, twee Drienasies-titels, drie Super14-titels en drie Curriebekers is Victor Matfield vertroud met wat wenrugby is, dankie.
En ongeag wat die kenners in Australasië ook al sê van die manier waarop die Springbokke hul rugby speel, glo die mees ervare slot in die geskiedenis van die spel die Bokke het die regte resep om wedstryde te wen.
Een wat al vandag weer hier op Loftus Versfeld in ere herstel kan word as die Wallabies in die Drienasies-reeks gepak word.
“Ek het nie ’n saak met wat hulle dink of sê nie. Ons weet hoe ons moet speel en dit gaan daaroor om die druk op die ander span te hou. As hulle dit minimum rugby wil noem, is dit hulle reg, maar ek weet ons noem dit Bok-rugby,” het Matfield reageer op aantygings van die oud-All Blacks Justin Marshall en Ian Jones dat die Bokke nie “genoeg” rugby speel nie.
“As ons die druk reg toepas, kán die ander span nie speel nie. Ons het dit vir 60 minute teen die All Blacks reggekry, en toe vir hulle kans gegee om terug te kom met twee onnodige strafskoppe, een swak lynskop en ’n duikslag gemis. Dit was egter individuele foute en nie die spelpatroon se skuld nie.”
Vandag sal weer daaroor gaan om die Wallabies onder druk te plaas en hul spelskeppers soos Quade Cooper, Will Genia en Matt Giteau onder druk te hou.
“Ja, dit gaan daaroor om soveel druk op die ander span te plaas dat hulle niks kan regkry nie en foute maak. Dit sal druk in die lynstane insluit,” het die mees gevreesde lynstaanspringer in die wêreld gesê.
Daar sál rugby van die Bokke se kant af kom, verseker hy.
Rolmale is onder meer bo-aan die sakelys. “Ja beslis, want dit is een afdeling van ons spel waar ons voel die belonings nog nie vanjaar gekom het nie.”
Matfield besef hoe belangrik die regte uitslag is. “Hierdie span moet wen. Ons moet die druk van ons afhaal, net uitgaan en gaan speel en dit geniet. Die uitslag sal na ons kant toe kom.”
Wat eindelik gaan saak maak, in Matfield se woorde, is “hoeveel ons weer gaan verbeter op verdediging. In Brisbane was ons swak, maar verlede week soveel beter.”
- Die Burger