Veelsydigheid ’n wolk oor Pienaar se kop
2009-11-21 14:17
Bloemfontein - Die kroon as wêreldrugby se veelsydigste agterspeler op toetsvlak is ’n ál swaarder las op Ruan Pienaar se kop.
Om heelagter en losskakel vir die Springbokke in toetse te speel, en skrumskakel vir die Sharks in die Super14, is soos om op ’n skaakbord deur die skaakmeesters rondgeskuif te word.
Pienaar sit juis vandag as veelsydige agterspeler op die bank in Udine vir die toets teen Italië.
Eerder as om deesdae soos van ouds sy oog op die gapings te hou en ’n wedstryd in ’n oogwink met ’n breekslag te swaai, lyk dit tans na ’n Pienaar wat in sy dop gekruip het en net doen wat van hom verwag word.
As Pienaar se klimtol-loopbaan in die Bok-trui voortduur, sal dit nie verbaas as hy óók binnekort sy heil oorsee soos ’n Frans Steyn gaan soek nie. Steyn kry oorsee die kans om hom in ’n posisie te vestig.
Pienaar se pa, Gysie, voormalige Springbok-heelagter en agterlynafrigter van 1995 se Wêreldbeker-Bokke, sê op navraag van Sport24 dit is ’n yslike voorreg vir sy seun om Suid-Afrika te verteenwoordig.
Gysie sê Ruan is nie iemand wat maklik gaan lê nie en dat sy vermoë op die aanval, vinnige opsomming van wat voor hom op die veld gebeur en onvoorspelbaarheid steeds sy sterkpunte is.
Gysie wou nie namens sy seun praat oor watter posisie sy eerste keuse is en of hy dit in die toekoms sou oorweeg om ’n oorsese draai te maak nie.
“Maar hy erken Ruan het sy stempel op skrumskakel in die Vrystaat-trui afgedruk.
“Daar is beslis groter druk op Ruan aangesien hy in verskeie posisie gekies word,” het Gysie aan Sport24 gesê.
– Sport24