Twitter-storm oor 'seksistiese' Campese
2012-11-28 09:00
Sydney – 'n Storm het Woensdag om die kop van die Australiese rugbylegende David Campese losgebars ná hy op Twitter 'n uitlating gemaak het oor vroulike joernaliste wat oor rugby skryf.
Campese, 'n rekord-driedrukker vir Australië, het Woensdag 'n boodskap op Twitter geplaas oor Georgina Robinson, 'n joernalis van die Sydney Morning Herald, wat Australië se toer in Europa dek.
"Hoekom kry die smh 'n meisie om oor rugby te skryf. Growden was 'n goeie joernalis en nou het ons iemand wat geen idee van die spel het nie!" het hy geskryf.
"Growden" is die koerant se bekende rugbyskrywer Greg Growden, wat onlangs uitgetree het.
Campese, wat 101 keer vir die nasionale span uitgedraf het, het sedertdien die boodskap verwyder, maar hy is skerp deur onder andere die Wallaby-flank David Pocock gekritiseer.
"Dis regtig jammer om te sien joernaliste word op grond van hulle geslag gekritiseer. Of dat 'n volwasse vrou beskryf word as 'n 'meisie'," het Pocock op Twitter geskryf.
Die oudspeler Wendell Sailor het ook kritiek gelewer.
"Goeie môre aan jou Campo en ek moet sê jy is op jou eie met hierdie uitlating, dis 2012, jong," het hy geskryf.
Campese het later teruggeskryf: "Partykeer is dit goed om te sien hoe mense reageer op iets wat jy sê. Ontspan asseblief en sien die ligter kant van die lewe. Alle joernaliste is dieselfde."
– Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP