Twitter nie welkom by WB
2010-10-15 15:07
Londen - Engeland het die eerste internasionale rugbyspan geword om die gebruik van Twitter en Facebook tydens die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland te verbied.
Volgens 'n berig op allblacks.com het die Engelse Rugbyunie (RFU) die week aangekondig dat geen speler toegelaat sal word om sosiale netwerke tydens aanstaande jaar se Wêreldbeker te gebruik nie.
Daar sal ook beperkings wees op spelers se kommersiële verpligtinge en promosieveldtogte aangesien die RGU nie konflik met die Wêreldbeker se amptelike borge wil hê nie.
Die Leicester Tigers rugbyklub het ook hul spelers verbied om Twitter te gebruik nadat Jordan Crane op sy Twitter-profiel aangekondig het dat hy weens 'n enkelbesering vir drie maande buite aksie sal wees.
"Jordan mag glad nie tweet nie. As hy dit weer doen gaan sy ander enkel ook seerkry," het Leicester se baas, Richard Cockerill, gesê.
Verlede maand is die Engelse krieketspeler, Kevin Pietersen, beboet na 'n uitbarsting op Twitter omdat hy nie gekies is vir die kitsreeks teen Pakistan nie.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24