Twee Stormers op kortlys vir gesogte pryse
2010-06-16 10:19
Bloemfontein - Rugby in Bloubul-land is kerngesond.
Dit is Dinsdag wéér onderstreep toe ’n rits spelers uit die Jakarandastad vir die Super14- en Vodacombeker-reeks se speler van die jaar benoem is.
Drie van die vyf benoemings, wat deur Suid-Afrikaanse media gedoen word, in albei reekse kom uit Pretoria.
Boonop is die Springbok-losskakel Morné Steyn, 2009 se Super14-speler van die jaar, wéér vir dié toekenning benoem.
Steyn, Fourie du Preez, skrumskakel, en Gerhard van den Heever, vleuel, van die Bulls het hul span se oorheersing beklemtoon deur onder die vyf Super14-benoemdes te wees.
Steyn het weer met sy skopskoen ’n groot bydrae gelewer en altesame 263 punte in die reeks, ’n nuwe rekord, opgestapel, terwyl Van den Heever agt drieë gedruk het. Dié groentjie kan nog ’n grote word en baie meen hy kan die Bok-span haal.
Du Preez, wat verlede jaar Suid-Afrika se speler van die jaar was, het deurgaans gewys waarom hy as die beste skrumskakel ter wêreld beskou word en sy ervaring het baie vir die Bulls beteken.
Die Stormers, wat die eerste keer die eindstryd van die Super14-reeks gehaal het, is met die ander twee benoemings in Andries Bekker, slot, en Jaque Fourie, senter, beloon.
Die Pretorianers het verder oorgenoeg diepte en dit word deur hul Vodacombeker-span se prestasies beklemtoon.
Gerrit-Jan van Velze, agtsteman, Tiger Mangweni, heelagter, en Francois Brummer, losskakel, is op die lys vir die Vodacombeker-speler van die jaar.
Die ander benoemdes is Louis Strydom, Vrystaat-losskakel, en Monty Dumond, die Sharks-vyftiental se losskakel.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24