Twee Potties teen WP ingespan
2011-09-15 09:12
Pretoria – Twee Potgieters, die een so aggressief en toegewyd op die rugbyveld soos die ander, draf Saterdag op Loftus Versfeld as flanke vir die Blou Bulle teen die Westelike Provinsie uit.
Die 25-jarige Jacques Potgieter, ’n aanwins uit die Oos-Kaap, draf as steelkantflank op die veld en sal die eerste keer met sy swaaiende donker hare in ’n Bul-trui speel.
Tog sal die onmisbare blonde hare van Dewald Potgieter nie verdwyn nie. Hy skuif oor as oopkantflank vir dié wedstryd. Die jong Warwick Tecklenburg is uit die 22-tal gelaat.
Die Potgieter-duo sal saam met die agtsteman CJ Stander probeer om ’n fisieke oorhand oor die Streeptruie te kry.
“Dewald het al oopkantflank gespeel en voer elke keer die meeste duikslae uit, selfs as hy steelkantflank speel,” het Pine Pienaar, die Bulle se afrigter, oor dié skuif gesê.
“Maar teen die WP, wat ’n uiters goeie verdedigingstelsel het, was die idee om Jacques as ’n bykomende baldraer te kies sodat ons momentum kan kry. Ek sal graag wil sien wat Jacques gaan doen.”
Die Jong Bokkie-kaptein, Arno Botha, is steeds die losvoorspeler tussen die plaasvervangers.
“Arno maak ’n goeie impak in die laaste halfuur en sal ’n bykomende baldraer vir ons wees. Hy vertoon elke keer goed as hy op die veld verskyn,” sê Pienaar.
Die afrigtingspan behoort teen aanstaande week te weet wanneer hul Springbok-oopkantflank Deon Stegmann weer op die veld sal wees.
Stegmann het sy wangbeen verlede maand in ’n wedstryd teen die Pumas gebreek en spreek Dinsdag ’n spesialis, wat sal sê wanneer hy gereed sal wees om te speel.
“Dalk sowat twee weke. Dalk minder of dalk meer,” is al wat Pienaar oor Stegmann wou sê.
Die insluiting van die nuwe Potgieter is die enigste verandering aan die span wat gelykop teen die Vrystaat-Cheetahs gespeel het.
Dit is ’n teken dat Pienaar voel die kombinasies in die Bloemfontein-stryd het in ’n mate tot hul reg gekom.
Gary Botha, kaptein van die Bulle, meen die spelers in die huidige Bul-span begin nou meer gewoond raak aan mekaar.
“Teen die Vrystaters was individuele foute ons probleem. Ek dink nie ek het al in ’n wedstryd gespeel waarin ons in die eerste tien minute die bal soveel keer aangeslaan het nie,” het Botha gesê.
“Ons moet dit uitstryk en na die volgende wedstryd oordra en die volgende wedstryd is teen die WP.”
Die Bulle se span is:
Zane Kirchner, Akona Ndungane, Wynand Olivier, Frans Venter, Bjorn Basson, Louis Fouché, Jano Vermaak, CJ Stander, Jacques Potgieter, Dewald Potgieter, Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Gary Botha (k), Dean Greyling.
Plaasvervangers: Willie Wepener, Rossouw de Klerk, Gerrit-Jan van Velze, Arno Botha, Dustin Jinka, Francois Brummer, Jurgen Visser.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24