Treu jag Bok-eer
2012-02-02 07:00
Pretoria – Vier maande gelede is die Springbok druipstert op ’n vroeë vlug uit Wellington weg, verleë met die wete dat nie net die Webb Ellis-beker afgestaan is nie, maar ook dat miljoene Suid-Afrikaners teleurgestel is.
Dieselfde onus rus sekerlik nie van Vrydagoggend af op Paul Treu en sy Blitsbokke nie, maar hulle kry tog ’n ideale kans om weer Suid-Afrikaanse rugby se pronk terug te kry as hulle in die Nieu-Seelandse hoofstad vir die vierde toernooi van die Internasionale Rugbyraad se wêreldreeks vir sewes aantree.
Die Blitse is een van die gunstelinge en is ná toernooie in Australië, Doebai en Port Elizabeth slegs drie punte agter Fidji en Nieu-Seeland op die punteleer.
Paul Treu en sy troepe is redelik stert in die lug ná daardie laaste toernooi in die Baai, waar hulle in die laaste sekonde van die wedstryd die skinkbord vol sjampanje aan Nieu-Seeland oorhandig het.
Sedertdien het sy twee spelskeppers van wêreldgehalte, Cecil Afrika en Branco du Preez, volkome van hul skete herstel en Treu het twee maande kans gehad om ’n wedstrydplan en fiksheid in sy span te dril.
Voeg daarby die nuwe gesig van Stephan Dippenaar, wat voorheen in die Westpac-stadion Superrugby vir die Bulls gespeel (en gewen het) en dit is duidelik dat daar geen rede is waarom Treu nie 2002 se glorie, toe hy self as speler dáár gewen het, as breier kan herhaal nie.
Dippenaar is ’n onbekende faktor vir sy eie span ook, maar belangriker nog, een waarvan sy teenstanders nog niks weet nie.
En daardie een onbekende speler kan genoeg wees om jou te bevoordeel in ’n toernooi waar minstens ses spanne as wenner gekroon kan word.
Dat dit Nieu-Seeland ’n ewigheid geneem het om sy eie toernooi te wen ondanks sy oorheersing op ander vastelande, is egter ’n duidelike bewys dat Wellington se goue medaljes nie in elkeen se broeksak beland nie.
Daarvoor is die “maklike” wedstryde te straf en kan ’n spikkel in die Stille Oseaan soos die Cook-eilande jou net soveel probleme besorg as Engeland of die VSA, die Blitse se ander teenstanders in Groep B.
Verwag nietemin van Suid-Afrika om goed te doen. Die Blitsbokke het genoeg ervaring, spierkrag, breinkrag en wilskrag om dit te doen.
Afrika en Du Preez gaan instrumenteel wees in ’n moontlike sege, al is dit net om as weerligafleier te dien en gapings vir spanmaats te skep.
Daar is nog ’n rede. Die Bok op die bors ...
Die groepe is: A: Nieu-Seeland, Samoa, Skotland, Japan. B: Suid-Afrika, Engeland, VSA, Cook-eilande. C: Fidji, Wallis, Argentinië, Tonga. D: Frankryk, Australië, Kanada, Kenia.
– Sport24
– Volg Nuus24Sport op Twitter