Totsiens Ruben
2010-02-03 23:15
Sarel van der Walt
Pretoria - Springbokrugby het Woensdag in Pretoria in groot getalle afskeid geneem van die voormalige Bok-held Ruben Kruger (39) wat verlede week ná ’n stryd van tien jaar met breinkanker oorlede is.
Om die waarheid te sê, daar was soveel oud-Springbokke, voormalige Springbok-afrigters, rugby-administrateurs en eertydse spanmaats en teenstanders van Kruger – ’n lid van die Springbokke wat in 1995 die Wêreldbeker gewen het – dat hulle maklik ’n paar toerbusse sou volmaak.
Omtrent al die lede van Francois Pienaar se ‘95 Bokke was teenwoordig.
Pienaar, wat kort voor Kruger se dood by hom in die hospitaal was, kon nie die begrafnis bywoon nie omdat hy in Europa is.
Gysie Pienaar, ’n oud-Bok en hulpafrigter van die ‘95-span, het uit China – soos Pienaar – om verskoning gevra dat hy nie daar kon wees nie.
Peter de Villiers, die huidige Springbokafrigter, was ook teenwoordig.
Morné du Plessis, oud-Springbokkaptein wat bestuurder van ‘95 se Bokke was, het in sy huldeblyk gesê die oudrugbybaas wyle dr. Danie Craven het altyd gesê dis een ding om ’n Springbok te word, maar dis iets anders om ’n góéie Springbok te wees.
“Dok (Craven) sou waarskynlik met my saamgestem het, Ruben Kruger was een van die héél grotes.
“Vandag word hy wêreldwyd geloof – van Londen en Edinburgh tot in Auckland.”
Kruger was in dieselfde jaar wat die Springbokke die eerste keer die Wêreldbeker verower het, Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar.
Du Plessis het saam met Kobus Wiese, ’n lid van die ‘95-span, en nóg ’n oud-Bok, Toks van der Linde, by die begrafnis opgedaag.
Buiten Du Plessis was verskeie ander voormalige Springbokkapteins soos Wynand Claassen, Naas Botha, Gary Teichmann en Joost van der Westhuizen ook teenwoordig.
Boet Fick, president van die Blou Bulle, verskeie van sy voorgangers en talle huidige en groot getalle gewese Springbokke, Bulls- en Blou Bul-spelers het ook hul laaste eer kom betoon aan die Silent Assassin soos Kruger bekend was.
Selfs sy ou skool, Grey Kollege in Bloemfontein, het ’n afvaardiging gestuur, terwyl dié skool en sy oudleerlinge wêreldwyd gisteroggend om 10:00 – toe die begrafnisdiens begin het – ’n oomblik van stilte vir “ou Grote” gehou het.
“Ruben is finaal oor die doellyn – dít waarvoor ons almal bestem is,” het pastoor At Boshoff, ook ’n oud-Greyleerling, met die begrafnisdiens in die Christian Reformed Church in Pretoria-Oos gesê.
“Ruben was nie ’n dweper nie. As hy gepraat het, het jy geweet waar hy staan. Hy het sy God geken,” het Boshoff gesê.
“Toe hy kort voor hy gesterf het, die laaste keer uit ’n diep slaap – of dalk eerder ’n koma – wakker geword het, het hy vir Lizel (sy vrou) gesê: ‘Ek het gedroom: Dis groot, dis groot, dis groot!’,” het Boshoff vertel.
“Ek glo hy het die hemel gesien.”
Lizel Kruger het in haar huldeblyk aan haar man gesê: “Aardse besitting was nie vir jou belangrik nie. Ons was trots op jou.
“Nie omdat jy ’n Springbokrugbyspeler was nie, maar omdat jy ’n Springbok-pappa was. Jy het in jou lewe ook nooit iets sleg vir my of oor my gesê nie.”
Sy twee jong dogters, Zoë en Isabella, het in hul huldeblyk in die begrafnisbrief geskryf: “Dankie dat ons elke oggend in jou arms kon lê en elke dag saam met jou in jou bakkie kon ry.
– Sport24