Tot ortodokse Kiwi’s boots Blitsbokke na
2011-11-26 10:28
Kaapstad – Hoewel die Blitsbokke Vrydag op die eerste dag van die Goue Kus-sewestoernooi in Australië stadig uit die blokke was, is dié span se invloed op sewesrugby duidelik sigbaar.
Suid-Afrika het of gaan (afhangend van lesers se oggendgewoontes) vandag net ná 06:00 in die kwarteindronde van dié toernooi teen Frankryk speel.
Dit is beslis die maklikste roete na die halfeindronde, want die ander kwarteindstryde is tussen Nieu-Seeland en Engeland, Samoa en Australië, en Wallis kom teen Fidji te staan.
Suid-Afrika het, danksy seges oor Amerika (17-12), Japan (31-7) en Australië (21-7), bo-aan Groep B geëindig.
As hy tot in die halfeinronde vorder, sal sy teenstander Wallis of Fidji wees. Die Fidjiane speel onder hul nuwe breiers weer die soort sewesrugby waarvoor Fidji áa die jare bekend was – sprinkaan-treë, fnuiklopies en ’n kneusende teenwoordigheid by die afbreekpunte.
En sedert Wallis in 2009 die Wêreldbeker-sewestoernooi gewen het, het hy al hoe beter geword. Die Rooi Drake het Engeland gister welverdiend met 21-7 geklop. Die span is jonk, uitstekend afgerig en besonder hardekwas.
Dat veer- tot middelgewig rugbylande al hoe beter word, was te sien in die “klein” hoogste telling van die dag: 38-0.
Die Blitsbokke se invloed op daardie toename in mededingendheid blyk aansienlik te wees.
Suid-Afrika het drie van die agt toernooie in die vorige Wêreldreeks gewen en is telkens vir sy taktieke uitnemendheid geloof.
Die vernaamstes taktieke was eerstens die doeltreffendheid waarmee die Blitsbokke hul bal by losskrums beskerm het sonder om baie spelers in te span.
Ook het hulle omkeerbesit in kontak afgedwing deur groot aanvallende spelers in die lug te hou.
Japan het albei daardie aspekte van die Blitse se spel gister toegepas. As sy balbehoud in algemene spel beter was, kon hy daardie kliniese oomblikke op die telbord laat geld het. Ditto Australië.
Maar die grootste pluimpie vir Paul Treu-hulle het uit ’n onverwagse oord gekom.
Toe die Blitse die Fidjiane vroeër vanjaar met dryfmaalbewegings van lynstane af geklop het, is die span geloof vir sy innovasie, maar terselfdertyd het sommige puriste oor daardie taktiek in sewes gemor.
Maar daar doen die toonaangewende, dog ortodokse Nieu-Seelanders, gister presies dieselfde teen die einste Fidji.
Die Springbok-sewesspan se grootste toets vir vanjaar is dus om nogmaals slimmer as die res te speel. Want slim haal sy baas skynbaar in.
* Cecil Afrika het Vrydag teen Japan sy ribbes beseer, maar Treu het aan Sport24 gesê hulle sou eers Saterdagoggend ’n besluit oor sy beskikbaarheid neem.
Kwarteindronde: Beker: 05:06 Nieu-Seeland t. Engeland; 05:28 Samoa t. Australië; 05:50 Wallis t. Fidji; 06:12 Suid-Afrika t. Frankryk.
Halfeindronde: Skild: 06:44 en 07:06. Bowl: 07:28 en 07:50. Plaat: 08:12 en 08:34. Beker: 08:56 en 09:18.
Eindstryde: 10:00 Skild; 10:30 Bowl; 11:00 Plaat; 11:30 Eindspeelstryd om 3de en vierde plek; 12:05 Beker.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24