Terblanche speel in 100ste CB-wedstryd
2010-07-22 08:01
Johannesburg - Mylpale in sy luisterryke rugbyloopbaan is vir Stefan Terblanche omtrent soos om tande te borsel.
Vrydagaand vier hy nóg ’n spesiale geleentheid sedert hy in 1996 die eerste keer vir die Boland uitgedraf het. Die Haaie se wedstryd teen die Pumas in Durban is Terblanche se 100ste Curriebeker-wedstryd, waarvan 25 vir die Boland was.
Terblanche het sy Curriebeker-debuut vir die Haaie in 1999 gemaak, maar het van 2003 tot 2007 vir die Walliese klub die Ospreys gespeel. Hy het 87 keer vir hulle uitgedraf.
Met sy terugkeer na die Haaie in 2007 het hy sy Curriebeker-loopbaan teen die Westelike Provinsie hervat, wat toe ook sy 100ste wedstryd in enige reeks vir die Haaie was.
Hy het daardie dag as heelagter twee drieë vir die Haaie gedruk en is as speler van die wedstryd aangewys. Terblanche het vroeër vanjaar ook sy honderdtal in Superrugby-wedstryde vir die Sharks voltooi.
Hy het vroeër vandeesmaand 35 jaar oud geword, maar blink nog uit op senter vir die Haaie, wat hy ook aanvoer in die Curriebeker-reeks.
Saam met die 37 toetse wat Terblanche vir die Springbokke gespeel het, het hy nou al byna 330 wedstryde in sy senior loopbaan gespeel.
Sy sentermaat is die 19-jarige Patrick Lambie, wat maar net vyf jaar oud was toe Terblanche deur Nick Mallett die kans gegee is om sy Curriebeker-debuut vir die Wynboere te maak.
John Plumtree, Terblanche se afrigter by die Haaie, het getrou gebly aan die 15-tal wat die grondslag vir die sege oor die Blou Bulle gelê het.
In die enigste verandering aan die 22-tal maak Willem Alberts weer sy verskyning ná ’n enkelbesering wat hy in die Super14-reeks opgedoen het.
Dié vurige losvoorspeler begin egter op die plaasvervangersbank, waar Shkoliwe Ndlovu vir hom plek maak.
Plumtree sê daar moet voortgebou word op wat teen die Bulle vermag is. “Dit gaan ’n uitdaging wees om weer die hoogtes van verlede week te bereik.
“Die Pumas het groot, fisieke spelers en hulle het die vermoë om drieë te druk. Hulle is ’n goed-afgerigte span en ons sal op ons stukke teen hulle moet wees,” sê hy.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24