Terblanche beboet vir tweet
2011-07-14 15:07
Kaapstad – Die Sharks-senter en Superrugby-kaptein Stefan Terblanche het Donderdag voor Sanzar-regtersbeampte Terry Willis verskyn op ‘n klag dat hy dié organisasie se gedragskode oortree het, berig Sport24.
Die aanklag hou verband met die beweerde misbruik van die sosiale netwerk webtuiste Twitter.
Terblanche (@StefanT15) het verlede maand getweet: “Sanzar is weer onpartydig. Die Sharks is nie eers toegelaat om wie ons wil op toer te neem nie. Pateties!!”
“(Ons is) nie toegelaat om (Riaan) Swanepoel, wat al heeljaar deel van die span is en vir vier weke saam met ons getoer het saam te neem nie. Hy het nie vier wedstryde gespeel nie. Caleb Ralph, Reds?”
Terblanche het skuld erken, om verskoning gevra en erken dat Sanzar se besluit om Swanepoel te verbied om vir die Sharks in die Superrugby finale kwalifiseerders in Junie 2011 te speel, die korrekte besluit was.
Terblanche is met sowat R15 000 beboet. Hy het die boete Donderdag op Twitter bevestig.
“Ek vra Sanzar om verskoning. Ek was verkeerd oor hul besluit oor Riaan Swanepoel. Sy uitlating uit die span was korrek. Ek is jammer,” het hy getweet.
– Sport24
– Volg Nuus24 op Twitter.