Talle hernu kontrakte by Bulls
2010-04-08 13:25
Pretoria – Die Vodacom Bulls het Donderdag aangekondig dat die slot Flip van der Merwe sy kontrak tot die einde van die 2012 seisoen verleng het.
Van Der Merwe, wat in 2009 by die Bulls aangesluit het, het almal met sy spel beïndruk in die Absa Curriebeker en Vodacom Super14 toernooie en die Blou Bulle-maatskappy (BBM) meen hulle is bly om sy kontrak wat op 31 Oktober 2010 sou verstryk het, te hernu.
Die BBM het onlangs die voormalige Bulle-slot Juandrè Kruger, wat deesdae vir Northampton Saints in die Premierliga speel, tot die einde van Oktober 2013 ook aangestel.
Met hul wêreldklas-slotte Victor Matfield, Danie Rossouw en Bakkies Botha wat almal die einde van hul rugbyloopbaan nader, is dit nodig om ‘n nuwe generasie slotte in plek te kry, het Ian Schwartz, prestasiebestuurder van die BBM, gesê.
Die Bulls het ook hul kontrak met hul voorspeler-afrigter Johann van Graan en die verdediging-afrigter John MacFarland hernu, het Schwartz bevestig.
- Sapa