Taai besluite wag op Allister
2011-09-26 08:02
Kaapstad. – Die Westelike Provinsie het vanjaar twee hoofdoelwitte vir die Curriebeker-rugbyreeks: om diepte te skep vir 2012 se Super Rugby-reeks en tweedens om die Curriebeker te wen.
Maar ná Saterdag se tuisnederlaag van 20-34 (rustyd 3-24) teen die Vrystaat lyk laasgenoemde ál meer onwaarskynlik.
Die Streeptruie het hul soveelste stryd met ’n slakkegang begin, terwyl hul teenstanders lus was vir resies ry. Die Vrystaat-Cheetahs was ná 14 minute met 17-0 voor, skryf Marco Botha.
Met dié nederlaag, die Blou Bulle se sege oor die Leeus en die Haaie s’n oor Griekwas het die WP nie net van tweede tot vierde afgeskuif nie, maar die vooruitsig van ’n halfeindronde-plek ’n duistere een gemaak.
Die WP speel Saterdag in Durban teen die Haaie. Daarna pak hy die Leeus weg, met die Pumas tuis sy laaste ligastryd.
Soos met verlede naweek se nederlaag teen die Bulle lê die skuld vir hierdie naweek s’n nie hoofsaaklik by die afrigters nie.
Allister Coetzee, WP-hoofafrigter, het deels weens ’n gewysigde toepassing van reëls, maar ook weens die afwesigheid van groot spelers soos Schalk Burger, Duane Vermeulen, Andries Bekker, Jean de Villiers en Jaque Fourie ’n minder direkte en meer aanvallende benadering vir hierdie Curriebeker-reeks aangeneem.
En die WP het teen die Vrystaat met daardie ingesteldheid ’n legio puntekanse geskep.
Voorlangs het hy die Vrystaat in die skrums gewurg en sy lynstane was meestal goed. Die strukture is goed. Dit is dus sy spelers wat vinger moet trek.
Benewens besit wat by die afbreekpunte afgestaan word, het die WP vrot hanteer.
Daarvoor moet die spelers pa staan. Maar Coetzee-hulle sal ernstig moet oorweeg of van hul impakspelers nie wel goeie beginspan-spelers ook is nie.
As die WP sy tweede hoofdoelwit nog wil verwesenlik, moet drastiese besluite te midde van beserings en Jong Turke in die beginspan geneem word.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24