Stut van Biarritz breek lansie vir BJ
2011-01-19 08:08
Bloemfontein - Sy skrumtegniek is steeds van wêreldgehalte en dit sal ’n yslike fout wees as die Springbok-rugbyafrigter, Peter de Villiers, dit nie ernstig oorweeg om BJ Botha in sy Wêreldbeker-groep in te sluit nie.
So sê Eduard Coetzee, wat die afgelope naweek Botha se regstreekse teenstander vir Biarritz in ’n Heinekenbeker-wedstryd teen die Bok-vaskopstut se Ierse klubspan, Ulster, was.
Ulster het in moeilike weerstoestande met 9-6 geseëvier.
“BJ is ’n goeie vriend van my en is vir seker een van die vaskoppe in wêreldrugby met die beste tegniek in vaste skrums,” het Coetzee aan Sport24 gesê.
“Ek dink Peter moet hom vir seker oorweeg, want afgesien van sy skrumwerk is sy werkverrigting baie hoog. ’n Ander Suid-Afrikaanse vaskop wat goed doen in die Heinekenbeker-reeks, is Brian Mujati van die Northampton Saints. Mujati-hulle het een van die sterker skrums in die Heinekenbeker.”
Coetzee het gesê bogenoemde spelers is na sy mening beter ná hul Europese blootstelling “en kan vir seker waarde toevoeg vir die Bokke in die aanloop tot die Wêreldbeker”.
Mujati, wat laas in die Stormers-trui in Suid-Afrika in aksie was voordat hy op die vliegtuig na Engeland geklim het, het soos Botha al vir die Bokke gespeel.
De Villiers sal die moeilike keuse hê om sy vaskoppe uit Botha, Mujati, die deurwinterde CJ van der Linde en hardwerkende Jannie du Plessis te kies. Volgens Coetzee haal die haker Schalk Brits van Saracens, die Bath-losskakel Butch James en agtsteman Luke Watson gereeld hoofopskrifte vanweë hul goeie spel – soos Ulster se slot Johann Muller en skrumskakel Ruan Pienaar.
Op ’n persoonlike noot beplan Coetzee om sy loopbaan eendag in Suid-Afrika af te sluit. Hy speel reeds die afgelope ses seisoene vir Biarritz en neem as kaptein waar van sy Franse klubspan as Imanol Harinordoque beseer is of vanweë internasionale verpligtinge nie beskikbaar is nie.
Hy was voorheen een van die Sharks se staatmakers.
“Ek geniet my rugby in Frankryk verskriklik baie. Ek geniet veral die harde voorspelerspel en die fokus op die vaste skrums in Frankryk.
“Skrums is hier ’n passie. My sterkpunt was voorheen my spel met die bal in die hand, maar ek voel ná die paar jaar in Frankryk is ek ’n meer volledige speler. Ek is nou 31 jaar oud en sal graag my loopbaan in Suid-Afrika wil afsluit. As die regte geleentheid hom voordoen by die Haaie of die Westelike Provinsie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24