Stut 'moes van polisieman afgetrek word'
2010-08-27 12:28
Pretoria - Die Bul-stut wat Donderdagaand in 'n voorval betrokke was waartydens metro-polisiebeampte gesterf het, moes glo van die polisieman afgetrek word.
Volgens kapt. Katlego Mogale, het die rugbyspeler steeds op die polisieman gesit nadat polisie by die toneel opgedaag het.
"Die verdagte het op die polisieman (wat in sy polisie uniform geklee was) gesit. Hy is van die oorledene afgetrek en die ambulans is ontbied, het Mogale aan News24 gesê.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare911, het gesê paramedici het 'n erg beseerde polisiebeampte vroeg Vrydagoggend in Schoemanstraat in Hatfield gevind.
Dit het later aan die lig gekom dat beampte doodgeslaan is.
Die rugbyspeler se regsverteenwoordiger, Ersnt Serfontein, het aan Nuus24 bevestig die stut is in hegtenis geneem en dat hy by die Sunnyside-stasie in aanhouding is.
"Hy sal vandag (Vrydag) of Maandag in die hof verskyn", aldus Serfontein.
Sapa berig kol. Eugene Opperman het bevestig 'n saak van moord word ondersoek.