Stormers-ghoeroe help Bokke
2011-07-06 09:59
Kaapstad – Peter de Villiers sal Vrydag die eerste keer sy hand vir die komende Drienasies-reeks en daaropvolgende Wêreldbeker-toernooi wys wanneer hy die Springbok-groep vir eersgenoemde rugbyreeks bekend maak, maar die invloed van sy tegniese adviseur, Rassie Erasmus, is reeds sigbaar.
Gerugte uit Kaapstad, waar die groep Dinsdag saamgetrek het en tot Vrydag bly, wil dit hê dat die Springbok-afrigter besluit het om die Stormers se verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, by die Bokke te betrek, iets wat regstreeks aan Erasmus se invloed toegeskryf kan word.
Erasmus het Nienaber immers in dié rol by die Stormers aangestel, waarna die Kaapse streekspan die stiefste in Super Rugby geword het wat die afstaan van drieë betref.
Die Stormers het maar 18 drieë in 17 wedstryde afgestaan teenoor die Springbokke wat in hul 14 toetse verlede seisoen 35 drieë afgestaan het.
Wat veral kommerwekkend uit daardie stukkie slegte statistiek was, is dat die All Blacks 11 keer in drie toetse en die Aussies 11 keer in vier toetse oor die Bok-doellyn is.
Selfs Wallis, die Bokke se eerste teenstander in die Wêreldbeker-toernooi, het ses keer in twee toetse teen die Bokke gedruk (teenoor die vyf van die Springbokke).
Nienaber se skynbare beskikbaarheid (die amptelike aankondiging word Vrydag verwag) is dus beslis goeie nuus vir De Villiers, wat reeds ’n seisoen of wat gelede probeer het om dié verdedigingskundige te betrek, maar hom toe in die burokrasie van die Westelike Provinsie vasgeloop het.
Erasmus is natuurlik nou direkteur van afrigting by die WP en het as sodanig genoeg sê gehad om Nienaber te betrek.
De Villiers het goedgunstiglik ’n klompie vrae van Sport24 via sy mediawoordvoerder, Andy Colquhoun, beantwoord, maar een van dié wat nie beantwoord is nie, was juis oor hoe vinnig Erasmus se rol agter die skerms op die speelveld gesien behoort te word. Die antwoord is nietemin onmiddellik.
De Villiers het wel die glas half vol eerder as half leeg gesien nadat die Crusaders seker gemaak het geen Suid-Afrikaanse span speel in die laaste week van Super Rugby saam nie.
“Enige afrigter soek mos maar ekstra tyd om met sy groep te werk, so hoewel dit nie ’n voordeel is dat ons spanne uitgeskakel is nie, gee dit ons tog waardevolle (ekstra) tyd om die span vir die Drienasies voor te berei,” het De Villiers gesê.
“Ons gaan ook die Curriebeker-reeks en die onderskeie unies se kondisioneringskenners gebruik om spelers voor te berei. Spelers moet weet dat die Curriebeker altyd as ’n maatstaf gebruik sal word vir spelers om hul stempel af te druk. Ons wil ook sekere spelers, in oorleg met die mediese spanne van hul provinsies, in die Curriebeker aanwend om skerp te word.”
De Villiers het aangedui dat hy gretig is om Heinrich Brüssow, wat in November 2009 laas toetsrugby gespeel het, vir die Drienasies-reeks te kies.
“As hy fiks verklaar word, sal ek hom baie graag in die Drienasies-reeks in aksie wil sien.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24